Nuus 11:00
BULLETIN 11 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is kommer oor pogings om die regmatigheid van die Verkiesingskommissie te ondermyn
# TLU SA sê die regering het nie die land se waterkrisis opgelos nie
# En gholf: Rory McIlroy het vertroue in sy spel voor die Meesterstoernooi vandag in Augusta begin
# Die grondwetkenner Pierre de Vos is bekommerd oor toenemende pogings deur sommige politieke partye om die regmatigheid van die Verkiesingskommissie te ondermyn. Verskeie godsdiensleiers in KwaZulu-Natal het in Februarie gedreig om die OVK te ontwrig en die verkiesings-uitslag te verwerp as die MK-party nie ‘n tweederde-meerderheid kry nie. De Vos sê hierdie aanvalle teen die OVK se integriteit is moontlik deel van ʼn doelgerigte strategie om vertroue in die kommissie te skaad en die uitslag van die verkiesing in Mei ongeldig te maak.
Die landbou-organisasie TLU SA sê intussen adjunkpresident Paul Mashatile se onlangse opmerkings dat die waterkrisis hanteer gaan word, is net politieke praatjies in aanloop tot die verkiesing. President Cyril Ramaphosa het hom as voorsitter van ʼn watertaakspan aangestel. Mashatile sê die waterkrisis het ʼn saamwerk-benadering nodig, wat die vaardighede van Solidariteit en AfriForum insluit. TLU SA se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê ʼn omvattende langtermyn-watervisie is noodsaaklik:
Forum 4 Service Delivery sê intussen swak leierskap het negatiewe gevolge vir munisipaliteite in Gauteng. Die bestuursprestasie-aanwyserverslag deur Good Governance Africa identifiseer Tshwane en Johannesburg as voorbeelde van groot stede wat swak vaar. Abel Tau van die forum sê hulle veldtog vir die komende verkiesing is gemik op bestuursondersteuning en -oorsig in munisipaliteite ten einde beter dienslewering te verseker. Tau onderneem om hulle oplossings Sondag op ‘n openbare geleentheid in Soweto bekend te stel en ook aandag te gee aan die bestuurskrisis en gebrek aan oorsig in die provinsie.
# Die Europese Unie se Geregshof het twee Russiese sakelui verwyder van die EU se sanksieslys. Hy sê die redes waarom hulle op die lys is, is nie goed verduidelik nie. Die miljardêrs Mikhail Fridman en Petr Aven is aan sanksies onderwerp na Moskou se inval in Oekraïne in Februarie 2022. Hulle fondse en bronne is bevries. Die hof het bevind hoewel die twee mans noue bande met die Russiese president Vladimir Putin het, is daar nie bewys hulle steun Moskou se optrede of beleid teen Oekraïne nie.
# Gholf: Die viermalige major-wenner Rory McIlroy sê hy is tevrede met sy spelpeil voor die Amerikaanse Meesterstoernooi vandag op die Augusta National in Georgia begin. Die Noord-Ier sal ‘n tiende poging aanwend om ‘n Grand Slam te behaal. Hy sal die eerste twee rondes saam met die wêreld nommer-een, Scottie Scheffler, en die Olimpiese gouemedaljewenner, Xander Schauffele, speel. McIlroy sê hoop hy sal baat vind by die lesse wat hy oor die jare in die toernooi geleer het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-730-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-337-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….