Nuus 11:00
BULLETIN 10 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party vra dat die OVK-kommissaris, Janet Love, moet bedank
# Brittanje sal nie sy wapenuitvoere na Israel opskort nie
# En tennis: Djokovic is volstoom aan die gang op die Monte Carlo-meesterstoernooi
# Die MK-party wil hê die Verkiesingskommissie se kommissaris, Janet Love, moet bedank na die Verkiesingshof se uitspraak. Die hof het gister die appèl van die party gehandhaaf in sy aansoek om oudpresident Jacob Zuma op sy lys van parlementêre kandidate te behou. Love het in Januarie bevestig dat Zuma nie aan die vereistes voldoen om as ‘n kandidaat aan vanjaar se verkiesing deel te neem nie. Die party sê die OVK het voortydig beslis dat Zuma nie kwalifiseer nie en kon dus nie tot ‘n ander of regverdige slotsom gekom het nie.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra ‘n onafhanklike ondersoek na wanadministrasie by die Onderwys- en Opleidingsowerheid vir die Versekeringsektor. Die owerheid het Maandag sy appèl teen ‘n hofaansoek verloor om die akkreditasie van die Graduate Institute of Financial Sciences weer in te stel as ‘n goedkgekeurde opleidingsverskaffer vir die bedryf. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê daar is bewerings oor wanadministrasie en korrupsie by die owerheid:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die Govan Mbeki-munisipaliteit in Mpumalanga se boete van 200-miljoen-rand vir die oortreding van omgewingswette verwelkom. Die boete wat deur die Bethal-landdroshof opgelê is, is vir die storting van rou en onbehandelde riool in die eMbalenhle-watersuiweringsaanleg en die Watervalhoekrivier tussen November 2019 en September 2020. Die Vervolgingsgesag se woordvoerder, Monica Nyuswa, sê die hof het 50-miljoen-rand van die vonnis vir vyf jaar opgeskort:
# Brittanje se minister van Buitelandse Sake, David Cameron, sê sy regering gaan nie wapenuitvoere na Israel opskort nie, maar sal internasionale wette gehoorsaam. Die land se regering is onder druk oor sy wapenhandel met Israel ná ‘n lugaanval waarin sewe lede van World Central Kitchen, insluitend drie Britte, dood is. Cameron sê deur wapenuitvoere toe te laat, tree die land op in ooreenstemming met ander lande met dieselfde mening. Hy herhaal hulle is ernstig bekommerd oor die humanitêre kwessie in Gaza.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Novak Djokovic, het sy eerste wedstryd van die jaar op ‘n kleibaan gemaklik gewen op die Monte Carlo-meesterstoernooi. Die wêreld se nommer-een van Serwië het Roman Safiullin van Rusland 6-1,6-2 verslaan om die derde ronde die 14de keer te haal. Hy kom nou teen die Italianer Lorenzo Musetti te staan wat Djokovic verlede seisoen in dieselfde ronde geklop het. Daar was ook oorwinnings vir Alexander Zverev van Duitsland en Hubert Hurkacz van Pole. Djokovic het Musetti geloof:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-371-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-355-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….