Nuus 11:00
BULLETIN 7 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die wêreld moet optree om volksmoord en menseregteskendings te stop
# Tax Justice SA kritiseer tabakvervaardigers omdat hulle die Inkomstediens hof toe neem
# En tennis: Djokovic se verwagtinge vir Monte Carlo is nie baie hoog nie
# President Cyril Ramaphosa sê dit mag nooit wees dat gruweldade, menseregteskendings en volksmoord minder gewig dra vir die slagoffers van sommige rasse, etnisiteite of godsdienstige affiliasies nie. Hy was in Rwanda vir die 30-jaar-herdenking van die volksmoord in 1994 waartydens sowat 800-duisend mense vermoor is. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief niemand kan onkunde voorhou oor wat in Gaza gebeur nie, want anders as die geval met Rwanda word alles op televisie uitgesaai en deurgaans daaroor geskryf. Hy sê die wêreld moet dringend optree.
# Tax Justice South Africa doen ‘n beroep op tabakvervaardigers om hul regstappe teen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens terug te trek. Die Fair-Trade Independent Tobacco Association, wat verskeie kleiner tabakprodusente verteenwoordig, vra die Hooggeregshof in Pretoria om die Inkomstediens te verbied om die nuwe pakhuiskamera-reël in te stel omdat hy meen dit skend die grondwetlike reg op privaatheid. Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê FITA se houding weerspieël ‘n selfvoldaanheid wat daartoe gelei het dat die land in ‘n bendeparadys ontaard het:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut sê daar is tot dusver nie van hom verwag om te reageer op enige kritieke weerverwante voorvalle ter see of op binnelandse water in die Wes-Kaap nie. Die provinsie ondervind tans swaar reën en sterk wind van tot 150 kilometer per uur, wat daartoe gelei het dat skole in die Kaapse Wynland, Somerset-Wes en die Overberg gesluit is. NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, sê vrywillige spanne bly op hoë gereedheidsgrondslag om ramprisiko-bestuurspanne by te staan:
# Die Verenigde Nasies se Internasionale Atoomenergie-agentskap waarsku die jongste hommeltuigaanval op die Zaporizhzhia-kernkragaanleg in Oekraïne verhoog die gevaar van ‘n groot kernkragkrisis beduidend. Die voorval het drie regstreekse aanvalle ingesluit op die aanleg se afskorting van sy hoofreaktor. Russiese amptenare by die grootste kernaanleg in Europa meen Oekraïnse hommeltuie het dit aangeval, maar Kiëf ontken dit. Die hoof van die agentskap, Rafael Grossi, sê die aanval is ‘n besliste skending van veiligheidsbeginsels.
# Tennis: Die wêreld se nommer een-speler, Novak Djokovic, erken hy koester geen hoë verwagtinge vir die Monte Carlo Meesters nie. Anders as in vorige jare toe hy vroeg titels verower het op die Australiese Ope, in Dubai of in die Sonskyn-dubbel, bly die Serwiër tot dusver vanjaar sonder ‘n trofee. Djokovic, wat reeds twee keer die titel in Monte Carlo-titel verower het, hoop hy kan beter speel nadat hy sedert 2015 in sewe verskynings nog nie verder kon vorder as die kwarteindronde nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-836-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….