Nuus 11:00
BULLETIN 24 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Siyafana Sonke eis dringende staatsingryping om geweld in Durban te stop
# Eskom rapporteer verbeterde opwekkingsprestasie, met energiebeskikbaarheid van 68,1-persent
# En, Rusland en Oekraïne sluit ‘n wapenstilstand in ‘n beleërde dorp, met vredesamesprekings volgende maand
# Die Siyafana Sonke-aksieveldtog vra die regering om dringend op te tree om die vlaag geweld in Durban te stuit, gesinne wat geraak word te beskerm en ondersoek in te stel na diegene wat daarby betrek word. Woordvoerder Yeshelen Govender sê die geweld sluit brandstigting, wreedaardige aanvalle en minstens een moord in. Govender beweer dat aanstigters wat hulself identifiseer as ondersteuners van die March and March-groep en Operasie Dudula, by aanvalle betrokke was, insluitend die blokkering van die vlugteling-ontvangsentrum in Che Guevara-weg en grootskaalse brandstigting.
# Eskom sê sy opwekkingsprestasie verbeter steeds, met ‘n energiebeskikbaarheidsfaktor van 68,1-persent hierdie boekjaar tot op hede. Die kragvoorsiener se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die verbetering dui op ‘n geleidelike verskuiwing van herstel na betroubare en volhoubare elektrisiteitsvoorsiening. Volgens Mokwena verteenwoordig die verbeterde prestasie ongeveer ses-duisend-424 megawatt aan bykomende beskikbare opwekkingskapasiteit, vergeleke met drie jaar gelede:
# City Power sê hy skuld kontrakteurs ongeveer 900-miljoen-rand, maar probeer om uitstaande betalings af te handel en die tydsduur vir betalings te verkort. Woordvoerder Isaac Mangena sê die nutsmaatskappy het begin om gedeeltelike betalings te maak, na die instelling van finansiële afkamping die begin van Oktober. Die betalings is uiteengesit tydens ‘n gesprek met betogers buite City Power se hoofkantoor in Reuven. Mangena sê verdere betalings sal gemaak word namate fondse beskikbaar word, met die oudste geverifieerde fakture wat voorkeur sal kry:
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne en Rusland het ooreengekom op ‘n wapenstilstand in die Russies-besette Oekraïnse dorp Oleshky. Die twee lande sê die wapenstilstand sal op 27 Oktober in werking tree, wat die lewering van hulp en die ontruiming van inwoners deur humanitêre korridors moontlik sal maak. Intussen het die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, gesê vredesonderhandelaars ontmoet volgende maand vir nuwe gesprekke om ‘n einde te bring aan die konflik, wat reeds byna vyf jaar duur. Hy sê onderhandelaars van Oekraïne, Rusland en die Verenigde State het ooreengekom op tegniese vergaderings in die eerste helfte van November in Abu Dhabi.
# Sokker: Die president van FIFA, Gianni Infantino se kanse op herverkiesing in Maart het verbeter nadat die beheerliggaam van Asië besluit het om hom te steun. Hierdie liggaam, tesame met die Europese liggaam UEFA en Concacaf het hom gekritiseer oor sy mislukte plan om belange in Wêreldbekertoernooie te verkoop. Die Asiatiese president, sjeik Salman Khalifa, het tydens ‘n FIFA-kongres in Tokio gesê dit is tyd om vorentoe te beweeg. Infantino sal volgende jaar vir ‘n laaste termyn vir verkiesing staan, nadat hy in 2016 die leisels oorgeneem het.
# En ten slotte, die Stad Johannesburg vra inwoners en eiendomseienaars om hul munisipale rekeninge voor die feestyd te vereffen, ten einde die opbou van skuld en moontlike onderbrekings in dienste te voorkom. Die Stad herinner kliënte daaraan dat kredietbeheermaatreëls dwarsdeur Desember voortgesit sal word, terwyl aansoeke vir fase vier van sy skuldverligtingsprogram aan die einde van hierdie maand sluit. Die munisipaliteit raai inwoners ook aan om water en elektrisiteit te bespaar en vir huishoudelike uitgawes te beplan voordat hulle vir die vakansie vertrek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….