Nuus 11:00
BULLETIN 7 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE staan vrywillige jeug-diensplig voor
# Die Kaapse Wynland-brandweerdiens beveg talle brande
# En, krieket: Twee onoorwonne honderdtalle in opwindende IPL-wedstryd
# Die leier van COPE, Mosiuoa Lekota, staan jeugbemagtiging in Suid-Afrika voor. Lekota het die party se verkiesingsmanifes bekendgestel in Hammanskraal, noord van Pretoria, en gesê vrywillige diensplig sal ingestel word sou die party die mag oorneem, met die doel om patriotisme onder jongmense aan te wakker. Lekota het ook die belangrikheid beklemtoon van onderwys en jeug-bemagtigingsprogramme om toekomstige leiers te kweek:
# Die brandweerdiens van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit werk van gister af onverpoosd om talle brande op verskeie plekke te bestry. Die woordvoerder Jo-Anne Otto sê die brand op Papegaaiberg in Stellenbosch is onder beheer, nadat koeler weer operasies vergemaklik het. Brande op Simonsberg, en in Pniel, Jamestown en Mitchellpas woed egter voort. Otto voeg by meer as 24 brande aan die buitewyke van Kaapstad moes ook aandag kry:
# Israelse aanvalle het teen dagbreek vanoggend Libanon geteiken, waar Hezbollah sterk teenwoordig is. ‘n Bron ná aan die groep wat deur Iran gesteun word het aan AFP gesê, die teikens was twee gebiede in die Bekaavallei, naamlik Janta, ‘n bergagtige gebied naby die grens met Sirië, en Sifri, in die middel van die vallei. Die aanvalle volg op Hezbollah se aankondiging gister dat hy ‘n Israelse Hermes 450-hommeltuig oor Libanese gebied afgeskiet het, en herbevestiging dat sy aanvalle eers sal stop wanneer die oorlog in Gaza eindig.
# Krieket: Jos Buttler het ‘n onoorwonne 100 aangeteken om Virat Kohli se eerste hondertal van die IPL-seisoen te troef, toe die Rajasthan Royals die Royal Challengers Bengaluru gister met ses paaltjies geklop het. Buttler se honderdtal het van 58 balle gekom in sy honderste IPL-wedstryd toe Rajasthan in Jaipur een lopie nodig gehad vir ‘n oorwinning terwyl hulle ‘n totaal van 184 gejaag het. Vroeër het Kohli ‘n onoorwonne 113 geslaan, met Bengaluru wat 183-vir-3 behaal het. Kohli en kaptein Faf du Plessis, wat 44 aangeteken het, se openingsvennootskap het 125 lopies bygedra.
# En, om mee af te sluit: Die tema van Wêreldgesondheidsdag, vandag, ‘My Gesondheid, my Reg‘ onderstreep toenemende bedreigings vir globale gesondheidsregte. Terwyl 140 lande gesondheid erken as ‘n mensereg, verhinder onvoldoende wetgewing toegang tot noodsaaklike dienste. Wêreldwyd het 4,5-miljard mense nie lewensbelangrike gesondheidsdekking nie, wat vererger word deur ongebreidelde lugbesoedeling wat elke vyf sekondes ‘n lewe eis. Die Wêreldgesondheidsorganisasie moedig universele toegang aan tot gehalte gesondheidsorg, onderwys, skoon lug, veilige water, voeding, regverdige arbeidsomstandighede en vryheid van diskriminasie om almal se gesondheidregte te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….