Nuus 11:00
BULLETIN 22 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi sê geen Ebola-gevalle is in Suid-Afrika opgespoor nie
# Die kommissaris van die Inkomstediens sê K-I-agente sal help met invordering en nakoming
# En gholf: Oosthuizen verlaat LIV en keer terug na die DP World-toer
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê geen land is immuun teen Ebola nie, en hoewel geen gevalle in Suid-Afrika aangemeld is nie, bly die land op hoë gereedheidsgrondslag. Die Demokratiese Republiek die Kongo is steeds die middelpunt van die uitbreking. Dit het reeds vier-duisend-600 lewens geëis van meer as nege-duisend-500 gevalle. Gevalle is ook in Nigerië, Kenia en Uganda aangemeld. Motsoaledi sê 24 openbare en 12 privaat hospitale kan moontlike Ebola-gevalle hanteer:
# Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Johnstone Makhubu, sê volhoubare inkomste-groei hang uiteindelik af van ekonomiese groei, belegging, werkskepping en nakoming. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het in die mini-begroting die geraamde inkomste aangepas van 2,14-duisend-miljard-rand in 2026/27 tot 2,53-duisend-miljard-rand in 2029/30. Makhubu sê hulle span kunsmatige intelligensie-agente in om die res van die jaar met invordering en nakoming te help. Hy sê elke rand wat deur nakoming herwin word, beskerm eerlike belastingbetalers:
Build One South Africa verwelkom intussen die brandstofprys-verligting van tien-miljard-rand wat in die mini-begroting aangekondig is, ná herhaaldelike oproepe dat die regering verbruikers moet bystaan wat met stygende koste te kampe het. Die brandstofheffing sal van 4 November verlaag word met drie-rand per liter vir diesel en een-rand-50-sent vir petrol, met verligting wat tot in Januarie geld. BOSA se leier, Mmusi Maimane, is egter bekommerd dat die voorspelling vir ekonomiese groei tot 1,2 persent verlaag is. Hy dring aan op blywende ekonomiese hervormings, bekostigbare brandstofpryse en groter aanspreeklikheid vir openbare besteding.
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika verdedig die vrylating van die Amerikaanse burger, Stephen Hubbard, uit Russiese aanhouding en ontken dat enige toegewings aan president Vladimir Putin gemaak is. Die 74-jarige oud-onderwyser is daarvan beskuldig dat hy vir Oekraïne geveg het toe hy in 2022 aangekeer is. Hy is sewe-jaar tronkstraf opgelê. Trump sê Hubbard sou nie vrygelaat word as sy administrasie nie verlede week verhoed het dat nuwe sanksies teen Rusland ingestel word nie:
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Louis Oosthuizen keer terug na die DP World-toer na sy besluit om LIV Gholf te verlaat. Die 44-jarige het vyf jaar gelede by LIV aangesluit, maar die liga ondervind ‘n onseker toekoms nadat Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds sy finansiële steun onttrek het. Oosthuizen sê die besluit was een van die moeilikstes van sy loopbaan nadat sy aansluiting by LIV een van sy bestes was. Hy glo egter ‘n meer buigsame speelprogram sal hom die kans bied om steeds op die hoogste vlak mee te ding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-333-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-100-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 112-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….