Nuus 11:00
BULLETIN 5 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nxesi sê die WVF se Arbeidsaktiveringsprogram is nie ‘n doodskoot vir die werkloosheidskrisis nie
# Israel gaan sleutel-deurgange heropen om meer hulp in Gaza toe te laat
# En rugby: Die Blitsbokke dring deur na die kwarteindronde in Hongkong
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, sê die Werkloosheidsversekerings-arbeidsaktiveringsprogram moet nie as ‘n wonder-oplossing beskou word vir die land se werkloosheidskrisis nie. Die program het ten doel om werkskepping aan te moedig en werkloses se indiensneembaarheid te verbeter, terwyl dit ook die bedryfsdoeltreffendheid van maatskappye in nood aanhelp. Die departement het 23-miljard-rand toegeken aan die program, wat môre in Gauteng bekend gestel word. Nxesi sê werksgeleenthede moet in 22 sektore geskep word:
# Gun Free South Africa vra die regering om stappe te doen om te verhoed dat misdadigers maklik vuurwapens bekom. Dit volg nadat die metropolisie in Hanoverpark op die Kaapse Vlakte beslag gelê het op ‘n aangepaste vuurwapen, omskep in ‘n ten volle outomatiese wapen. Die organisasie se direkteur, Adéle Kirsten, vra ‘n wysiging aan die wet om lisensiëring van semi-outomatiese wapens aan burgerlikes te verbied. Sy waarsku teen moontlike vuurwapengeweld soortgelyk aan dié wat in die Verenigde State gesien word as die kwessie nie vinnig aandag kry nie.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi moet die skuld kry vir veskeie organisasies sonder winsbejag wat moes sluit weens te min fondse. Die provinsie se Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het sy 2024/25-begroting vir dienste aan kwesbares met 223-miljoen-rand besnoei, wat organisasies sonder genoeg geld laat vir hul dienste. Amanda de Lange van die VF Plus sê baie van die een-duisend-350 organisasies wat nie befondsing ontvang het nie, moes sluit en maatskaplike werkers aflê:
# Israel se veiligheidskabinet het ‘n reeks stappe goedgekeur sodat humanitêre hulp na Gaza deurgelaat kan word. Dit sluit in die tydelike heropening van twee roetes vir noodvoorraad. Die Erez-grenspos in die noorde sal die eerste keer sedert 7 Oktober vir ‘n tyd heropen, terwyl Ashdod-hawe ook oopgestel word. Dit volg op die Amerikaanse president, Joe Biden, se waarskuwing aan die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, dat Amerika se toekomstige steun aan Israel sal afhang van die stappe wat hy doen om burgerlikes te beskerm.
# Rugby: Die Blitsbokke is deur na die kwarteindronde in Hongkong nadat hulle vandag hul eerste twee wedstryde in Groep C gewen het. Hulle het eers ‘n sege van 22-17 oor Ierland behaal. Shilton van Wyk, Dewald Human, Quewin Nortjé en Ryan Oosthuizen het drieë gedruk om die Blitsbokke hulle eerste oorwinning oor Ierland in dié seisoen se Wêreldreeks te besorg. Suid-Afrika het Spanje daarna 24-10 verslaan. Die Blitsbokke, wat in die sewende plek op die punteleer is, kom môreoggend in hul laaste groepswedstryd teen Samoa te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-en-15-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-284-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 91-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….