Nuus 11:00
BULLETIN 4 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mapisa-Nqakula sal na verwagting vandag in die hof verskyn op aanklagte van korrupsie
# AZAPO vra die verwerping van die verhoging van elektrisiteitstariewe
# En Kaizer Chiefs se verdediger word tydens ‘n motorkaping vermoor
# Die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sal later vandag in die Pretoriase Landdroshof verskyn nadat sy vroeër vanoggend by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion aangekom het. Sy het haarself volgens berigte aan die polisie oorgegee op aanklagte wat verband hou met beskuldigings dat sy miljoene rand se omkoopgeld en gunslone van ‘n kontrakteur aanvaar het toe sy minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Mapisa-Nqakula, wat gister as speaker bedank het, hou vol sy is onskuldig.
Die DA sê intussen hy gaan ‘n mening inwin oor sy klagtes oor Mapisa-Nqakula en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Amos Masondo, oor die salarisverhoging van die Parlement se sekretaris. Die saak dien voor die Parlement se Regte- en Voorregtekomitee. Xolile George is volgens die advertensie vir die pos aangestel op ‘n salaris van 2,6-miljoen-rand per jaar, maar dit is skynbaar tot 4,4-miljoen-rand aangepas. Siviwe Gwarube van die DA sê Mapisa-Nqakula moet ondanks haar bedanking steeds daarvoor aanspreeklik bly:
# Die Azania People’s Organisation het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika versoek om die verhoging van 12,74-persent in die elektrisiteitstarief te laat vaar. AZAPO voer aan sulke verhogings belas die stedelike en landelike armes op ‘n buitensporige wyse, te midde van wydverspreide armoede en werkloosheid. Die party veroordeel NERSA se optrede as die versmoring van verbruikers en beloof om weerstand te bied.
# Die Finse polisie glo afknouery was die motief agter Dinsdag se dodelike skietery by ‘n skool aan die buitewyke van die hoofstad, Helsinki. ‘n Twaalfjarige seun is in aanhouding nadat hy na bewering nog ‘n twaalfjarige doodgeskiet en twee meisies gewond het. Die polisie sê die verdagte het tydens ondervraging onthul sy klasmaats het hom afgeknou. Finland se regering het gister tot ‘n nasionale roudag verklaar oor die voorval, wat die eerste minister, Petteri Orpo, as ontsettend skokkend beskryf het.
# Sokker: Die Gautengse polisie het met ‘n soektog begin ná die moord op Kaizer Chiefs se verdediger, Luke Fleurs. Die 24-jarige Fleurs is gisteraand in ‘n kaping doodgeskiet. Hy het in Oktober by Chiefs aangesluit met die oog op ‘n kontrak nadat Supersport United hom in September vrygestel het. Fleurs het 70 wedstryde vir SuperSport gespeel. ‘n Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê klagtes van moord en kaping word ondersoek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-178-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-293-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….