Nuus 11:00
BULLETIN 3 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie in KwaZulu-Natal skiet nege verdagtes dood tydens ‘n skietgeveg in Mariannhill
# ‘n Politieke ontleder sê die korrupsie-bewerings teen adjunkpresident Mashatile kan die publiek se vertroue in die regering skaad
# En, krieket: Die Protea-vroue kom vanaand teen Sri Lanka te staan om die T20-reeks te bepaal
# Nege vermeende misdadigers is vanoggend in die vroeë oggendure dood in ‘n skietgeveg met die polisie in Mariannhill, KwaZulu-Natal. Polisie-woordvoerder Robert Netshiunda sê hulle het toegeslaan op ‘n groep van elf verdagtes wat na bewering die inwoners van Mariannhill en omliggende gebiede geterroriseer het. Hy sê die verdagtes is ook gesoek in verband met die verkragting van ‘n jong meisie tydens ‘n huisroof. Netshiunda sê hulle soek nou die ander twee verdagtes:
# Die onlangse aantygings teen adjunkpresident Paul Mashatile kan die publiek se vertroue skend in die regering se vermoë om korrupsie doeltreffend te bekamp. Dit is die mening van ‘n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, Sysman Motloung. Mashatile het tot môre om aan die Parlement se Etiekkomitee vrae te beantwoord oor die korrupsie-aanklagte teen hom. Die Valke ondersoek hom en sy skoonseun tans oor ‘n huis van byna 30-miljoen-rand in Kaapstad en die bron van dié fondse. Motloung sê die bewerings skets ’n somber prentjie oor die stand van regering.
# Hashtag NotInMyName is bekommerd oor Suid-Afrika se voortdurende stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord, ondanks die regering se pogings. Dit volg ná berigte van ‘n polisiebeampte wat na bewering sy kollega en vriendin gesteek het en haar sterwensoomblikke op video vasgelê het. Die organisasie sê ook die minister van Polisie, Bheki Cele, se onrusbarende kwartaallikse misdaadstatistiek moet lei tot verdere optrede om geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp. Die beweging vra deursigtigheid in die gebruik van fondse en dring aan op gesamentlike optrede om die veiligheid van vroue en kinders te verseker.
# ActionSA eis duidelikheid van die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Thandi Modise, oor die ontplooiing van Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die weermag se bedrywighede as deel van die Suid-Afrikaanse sending in die DRK, word glo aan operasionale risiko’s blootgestel weens haglike omstandighede. Mohammed Rafeek Shah van ActionSA sê die SANW se ontplooiiing laat ‘n paar ernstige vrae ontstaan:
# Krieket: Die T20-reeks tussen die Protea-vroue en Sri Lanka word vanaand op Buffalo-park in Oos-Londen beslis. Die Proteas het die openingswedstryd in Benoni met 79 lopies gewen, waarna die besoekers die reeks gelykop gemaak het met ʼn indrukwekkende oorwinning met sewe paaltjies in Potchefstroom. Die snelbouler Tumi Sekhukhune sê die Proteas moet hulle tuisreeks wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-347-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-274-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….