Nuus 11:00
BULLETIN 31 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyf mans sterf in ‘n ongeluk naby Keimoes in die Noordkaap
# Die Vryheidsfront Plus sê die meerderheid ouers en skoolgemeenskappe in Gauteng is gekant teen die BELA-wet
# En, krieket: Sri Lanka maak die T20-reeks teen die Protea-vroue gelyk
# Vyf mans is dood toe twee motors gisteraand in ‘n botsing reg van voor op die N14 naby Keimoes in die Noordkaap betrokke was. Vier inwoners van Kakamas wat in een voertuig was, asook een van die vier Suid-Koreaanse mans in die ander motor, is op die toneel dood. Drie beseerdes is na die hospitaal gehaas. ‘n Polisiewoordvoerder, Sergio Kock, sê die Koreaanse reisigers was van Kakamas na Upington op pad:
En, meer as ‘n duisend padgebruikers is aangekeer en 900 voertuie is geskut tydens wetstoepassingsoperasies in al nege provinsies sedert die begin van die Paasnaweek. Oortredings sluit in dronkbestuur, vervalste rybewyse, roekelose bestuur, en oorlaaiing van goedere en passasiers. Die Padverkeersbestuurskorporasie se woordvoerder, Simon Zwane, sê een van die grootste bekommernisse is onpadwaardige voertuie, en 274 voertuie met defekte is tot dusver van die pad gehaal:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die voorleggings van die meeste van dié wat die openbare sittings oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys bygewoon het, asook talle geskrewe voorleggings, maak dit duidelik die meerderheid ouers en skoolgemeenskappe in die provinsie is gekant teen die voorgestelde BELA-wet. Die woordvoerder van die VF Plus, Anton Alberts, sê die ANC het die menings ignoreer in weerwil van vorige Konstitusionele Hof-uitsprake:
# ‘n Konvooi van drie skepe het die hawe van Larnaca in Ciprus met 400-ton voedsel en ander voorrade vir Gaza verlaat, terwyl kommer oor hongersnood in die gebied toeneem. Die Amerikaanse welsynsorganisasie, World Central Kitchen, sê die voorrade is genoeg vir meer as een-miljoen etes. Die vaartuie en ‘n vragboot het gereed-om-te-eet items soos rys, pasta, meel, neute, geblikte groente en proteïne aan boord. Daar is ook dadels wat tradisoneel geëet word om die daaglikse vas tydens die heilige maand van Ramadaan te breek.
# En, krieket: Die Proteas-vrouespan het hulle ongestelde kaptein Laura Wolvaardt in die tweede T20 gister teen Sri Lnka in Potchefstroom gemis. Die besoekers het ‘n sewe-paaltjie-oorwinning behaal om die reeks van drie wedstryde een-elk gelykop te maak. Die Proteas het die eerste kragmeting in Benoni oorheers. Hulle het gister 84 vir twee teen die halfpadmerk bereik maar tot 138 vir agt teruggesak. Die Sri Lankane het die teiken met sewe balle oor gehaal. Die laaste wedstryd word Woensdag in Oos-Londen beslis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….