Nuus 11:00
BULLETIN 6 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola eis dat Dlamini-Zuma bewerings van stemkopery teen hom terugtrek
# NAVO beloof bykomende lugverdedigingstelsels aan Oekraïne
# En tennis: Zverev, Medvedev en Fritz is uitgeskakel uit die Kanadese Ope
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, eis dat die ANC-veteraan Nkosazana Dlamini-Zuma bewerings van stemkopery teen hom terugtrek. Sy het tydens die potgooi, African Renaissance, verwys na ‘n stemboodskap wat Lamola beskuldig van stemkopery tydens die ANC se nasionale konferensie in 2017. Dlamini-Zuma het die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, van dieselfde beskudig. Lamola het aan die SABC gesê dis nie in sy aard om van elke politieke meningsverskil ‘n hofstryd te maak nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die nuut-aangestelde raad van die Openbare Beleggingskorporasie om goeie bestuur die sentrale punt van sy mandaat te maak. Agt raadslede het verlede week bedank. Die korporasie hanteer meer as drie-duisend-miljard-rand van staats-pensioenfondse. Die Hooggeregshof in Pretoria het die skorsing van uitvoerende hoof Patrick Dlamini onwettig en ongeldig verklaar. Woordvoerder Claude Naicker sê dit wek ernstige kommer oor die manier waarop die vorige raad opgetree het:
# Mpumalanga se polisie sê daar is tans nie ‘n aanduiding van gemene spel in die dood van twee tieners van St Stithians College nie. Die liggame van die 19-jarige Ethan Coetzee en die graad 11-leerder Cameron Waldeck-Cooks is Maandag in ‘n lodge in Sabie ontdek. Coetzee het verlede jaar matriek geskryf en vir die Johannesburgse skool se eerste rugbyspan gespeel. Waldeck-Cooks was ‘n talentvolle atleet. Woordvoerder Mavela Masondo sê die saak word ondersoek:
Nuus uit die buiteland:
# NAVO se sekretaris-generaal, Mark Rutte, sê hulle werk daaraan om Oekraïne die lugverdediging te gee wat hy dringend benodig. Rusland het gister 24 ballistiese missiele op Kiëf afgevuur en minstens 17 mense is dood. Oekraïne kon volgens berigte nie daarin slaag om ‘n enkele missiel af te weer nie. Die voorraad lugverdedigings-missiele van Oekraïne se bondgenote het in die eerste helfte van vanjaar gedaal tot ‘n derde van verlede jaar se vlak. Rutte sê NAVO-bondgenote sal verseker dat Oekraïne die ondersteuning kry wat hy benodig.
# Tennis: Die eerste-gekeurde Alexander Zverev van Duitsland en die vierde-gekeurde Daniil Medvedev van Rusland is uitgeskakel uit die Kanadese Ope in Montreal. Zverev het verloor teen Tallon Griekspoor, terwyl nog ‘n Nederlander, Botic van de Zandschulp, vir Medvedev verslaan het. Die sewende-gekeurde Taylor Fritz het in skoon stelle verloor teen die Argentyn Thiago Agustin Tirante. In die vroue-afdeling het die Amerikaner Coco Gauff haar landgenoot Kayla Day in skoon stelle uitgeskakel, terwyl Alexandra Eala van die Filippyne die Amerikaner Alycia Parks in drie stelle geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-799-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-257-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 82-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….