Nuus 11:00
BULLETIN 30 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier sê aantygings teen Mashatile is ‘n spieëlbeeld van staatskaping
# Outa se uitvoerende hoof noem die e-tol-fiasko ‘n harde les vir die regering
# En, ActionSA se leier sê Paasfees vra vir nadenke oor die moontlikheid vir vernuwing
# Die DA-leier, John Steenhuisen, sê die aantygings teen adjunkpresident Paul Mashatile is ‘n spieëlbeeld van die staatskaping wat die land tydens oudpresident Jacob Zuma se administrasie ervaar het. Steenhuisen het gepraat voor die Kaapstadse Persklub. Na bewering het daar miljoene-rand na Mashatile se kinders en medewerkers gegaan en sy weelderige leefstyl befonds. Steenhuisen sê ook in hierdie geval gaan president Cyril Ramaphosa voort om sy mede-kader ten alle koste te beskerm. Hy sê Ramaphosa kan nie langer sy voorganger die skuld gee vir die ongebreidelde korrupsie wat onder sy administrasie toegeneem het nie.
# Die uitvoerende hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik, Wayne Duvenage, sê die e-tol-fiasko was ‘n harde les vir die regering. Hy sê die skema het al die tekens van mislukking getoon lank voor dit in Desember 2013 van stapel gestuur is, maar die regering het voortgegaan sonder om na sy burgers te luister. Duvenage sê die regering het vir jare daarmee volgehou, wat gelei het tot die vermorsing van miljarde-rand aan belastingbetalersgeld:
# Die polisie in KwaZulu-Natal het ‘n massiewe soektog van stapel gestuur na die verdagtes wat vier mense Donderdagaand in die Uganda-informele nedersetting in Umlazi doodgeskiet het. ‘n Groep vriende het in ‘n hut gesit en drink toe minstens ses verdagtes ingestorm en selfone geëis het. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê die slagoffers het glo geweier en een van die verdagtes het toe losgebrand:
# Krieket: Virat Kohli het regdeur die beurt van die Royal Challengers Bengaluru gekolf en sy tweede agtereenvolgende 50-tal in die IPL aangeteken, maar die Kolkata Knight Riders het steeds ‘n sege van sewe paaltjies in Bangalore behaal. Kolkata, wat die tuisspan se 182 vir ses gejaag het, het die teiken gehaal met 19 balle oor, met ‘n ses van die kaptein Shreyas Iyer. Die kaptein van Bengaluru, Faf du Plessis, het Phil Salt geloof vir sy vinnige 30 met die kolf en Sunil Narine wat 47 gemoker het in hulle openingsvennootskap van 86.
# En, die leier van ActionSA, Herman Mashaba, sê Paasfees vra vir nadenke oor die moontlikheid vir vernuwing en optimisme in Suid-Afrika. Paasnaweek word vanjaar gevier in die aanloop tot ‘n belangrike nasionale verkiesing en daarom bid hulle saam met miljoene mede-Suid-Afrikaners vir die nasie se toekoms en welvaart. Mashaba doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om padveiligheid eerste te stel, hulle te weerhou van dronkbestuur en die opdragte van wetstoepassers te gehoorsaam:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….