Nuus 11:00
BULLETIN 28 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Parlementslede is bekommerd oor die toekoms van SAL sonder finansiële steun
# Sadou doen ‘n beroep op Educor om studente te vergoed ná die de-registrasie van sy instellings
# En, president Ramaphosa wens Senegal se nuutverkose president geluk
# Parlementslede het hulle kommer uitgespreek oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse Lugdiens sonder ‘n strategiese sakevennoot. Dit volg op die kansellasie van die verkoop van ‘n 51-persent-belang in die lugdiens aan die Takatso-konsortium. Die adjunkminister van Openbare Ondernemings, Obed Bapela, sê die regering was aanvanklik van plan om meerderheidsaandele in die Takatso-transaksie te hê, maar dit kon nie bereik word nie weens die toestand waarin die SAL destyds was:
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie sê hy neem kennis van die Departement van Hoër Onderwys se besluit om vier instellings wat aan Educor behoort, te de-registreer. Damelin, City Varsity, Icesa City Campus en Lyceum College is gederegistreer oor kwessies soos growwe nie-nakoming en korrupsie. Sadou se hoofsekretaris, Mugwena Maluleke, sê Educor moet die meer as 13-duisend studente wat geraak word, terugbetaal en dosente en ondersteuningspersoneel se uitstaande salarisse betaal:
# Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling sê Suid-Afrika het sedert 2021 aansienlik vordering gemaak met die bekamping van bek-en-klouseer-uitbrekings. Slegs KwaZulu-Natal en die Vrystaat het nog uitbrekings in voorheen bek-en-klouseer-vrye gebiede. In ander provinsies is die uitbrekings opgelos, met geen nuwe gevalle in die Oos-Kaap, die Noord-Kaap en die Wes-Kaap nie. Intussen bly beperkings van krag in KwaZulu-Natal en die Vrystaat. Kliënte word herinner om die veeartsenykundige gesondheidsvereistes te bestudeer voordat besendings vir uitvoere voorberei word.
# President Cyril Ramaphosa het Bassirou Diomaye Faye gelukgewens met sy verkiesing tot Senegal se vyfde demokraties-verkose president. Die 44-jarige Faye het as onafhanklike kandidaat aan die verkiesing deelgeneem nadat sy Patriots of Senegal-party verlede jaar in Julie oor onluste ontbind is. Hy het beloof om Senegal ekonomies onafhanklik te maak. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president wil bilaterale betrekkinge tussen Suid-Afrika en Senegal versterk om ‘n beter en vreedsame vasteland te bewerkstellig:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Daniil Medvedev, het sy plek in die Miami Ope se halfeindronde bespreek. Die Rus wat probeer om die eerste keer in sy loopbaan ʼn titel suksesvol te verdedig, het die Chileen, Nicolas Jarry 6-2, 7-6 geklop. Hy kom nou te staan teen Jannik Sinner van Italië, met wie hy ook vroeër vanjaar in die eindstryd van die Australiese Ope kragte gemeet het. Medvedev het die laaste vier gehaal sonder om ʼn stel af te staan, terwyl Sinner vanjaar nog net een wedstryd verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-220-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-196-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus…………….