Nuus 11:00
BULLETIN 27 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# My Vote Counts sê die huidige geslote partylys-stelsel moet verander
# TLU SA sê daar word nie genoeg gedoen om boere te beskerm nie
# En die Junior Bokke sal die onder 20-rugbykampioenskap teen Nieu-Seeland afskop
# My Vote Counts sê die huidige geslote partylys-stelsel skep groot gapings tussen mense en hulle verteenwoordigers omdat kandidate nie regstreeks aanspreeklik is teenoor kiesers nie. Rise Mzansi vra in sy verkiesingsmanifes vir ‘n stelsel wat op kiesafdelings gegrond is sodat die skakel tussen kieser en parlementslid versterk word. My Vote Counts sê die gebrek aan ʼn kiesstelsel wat voorsiening maak vir regstreekse aanspreeklikheid en ʼn politieke alternatief wat burgers se eise en hoop insluit, is kommerwekkend.
# Die landbou-organisasie TLU SA sê hy is bekommerd dat owerhede meer op misdaadstatistiek fokus as op misdaad self. Volgens sy jongste syfers is daar in Januarie en Februarie 18 plaasaanvalle en twee plaasmoorde aangemeld. TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, sê ʼn regering wat nie besef kommersiële boere is sy grootste bate nie, is uiters kortsigtig:
# Nog twee mense, insluitend ‘n polisiebeampte, is aangekeer in verband met die ontvoering van ‘n neef en niggie in Noordwes. Zahraa en Bataviya Mohammed is die sesde van die maand in Hartbeespoort ontvoer terwyl hulle op pad was skool toe, en is Maandagaand in ‘n huis in New Stands, Klipgat, gevind. ‘n Provinsiale polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone, sê die beampte wat in hegtenis geneem is, is ‘n sersant verbonde aan die Letlhabile-speurafdeling:
# ʼn Menseregtekenner van die Verenigde Nasies sê daar is volgens haar redelike gronde dat Israel talle volksmoord-dade in Gaza gepleeg het. Francesca Albanese het haar verslag met die titel Anatomy of a Genocide, aan die VN se Menseregteraad voorgelê. Israel verwerp die verslag en beskryf dit as ʼn verregaande verdraaiing van die Volksmoordkonvensie. Albanese sê die oorweldigende aard en omvang van Israel se aanval op Gaza en die vernietigende lewenstoestande wat dit veroorsaak, kom neer op ʼn bedoeling om Palestyne te vernietig:
# Rugby: Die Junior-Springbokke speel op twee Mei teen Nieu-Seeland in die openingswedstryd van die Onder-20-rugbykampioenskap. Die gasheer, Australië, en Argentinië neem ook aan die kompetisie deel. Dit vind plaas oor drie rondes waarin die spanne elk een wedstryd teen mekaar speel. Die Junior Bokke speel op 7 Mei teen Australië en hulle laaste wedstryd is op 12 Mei teen Argentinië. Die uitvoerende hoof van SANZAAR, Brendan Morris, sê die kampioenskap baan die weg vir jonger spelers na senior en internasionale rugby.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-294-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-178-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….