Nuus 11:00
BULLETIN 25 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se mosie oor Gaza word afgeskiet op die sitting van die Tussenparlementêre Unie
# Die Verkiesingshof gaan vandag uitspraak lewer in die ANC se registrasiesaak teen die MK-party
# En motorsport: Mercedes se F1-hoof sê die werkverrigting van hul motor is nie goed genoeg nie
# Die Suid-Afrikaanse Parlement kon op die 148ste vergadering van die Tussenparlementêre Unie nie ‘n tweederde-meerderheid kry vir sy mosie dat die humanitêre krisis in Gaza as nood-item ingesluit word nie. Die mosie het 904 van die vereiste 916 stemme gekry. Die Nasionale Raad van Provinsies se ondervoorsitter, Sylvia Lucas, sê gesamentlike optrede is dringend nodig om een van die wêreld se dringendste humanitêre krisisse op te los:
# Die Kieshof in Bloemfontein lewer na verwagting vandag uitspraak in die ANC se aansoek dat die uMkhonto weSizwe Party se registrasie as politieke party onwettig verklaar word. Die ANC se regspan voer aan die party, wat deur oudpresident Jacob Zuma ondersteun word, se registrasieproses was foutief. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie en MK hou vol alles is reg gedoen. MK se regspan sê die ANC nader net die hof omdat Zuma die nuwe party ondersteun.
Die EFF sê intussen sy suksesvolle provinsiale verkiesingsmanifes-saamtrekke is ’n bewys dat die party sterk steun het in aanloop tot die verkiesing. Die party het dié maand saamtrekke gehou in sewe provinsies. ‘n Onlangse peiling deur die Brenthurst-stigting toon dat die EFF se steun op tien-persent kan bly, met die MK Party wat moontlik 13-persent van die nasionale stemme op hom kan verenig. Die EFF sê die kern van elke boodskap aan die provinsies was die party se verbintenis om grond beskikbaar te stel, werk te skep en beurtkrag te beëindig.
# Die Nasionale Seereddingsinstituut in Kaapstad gaan voort met ʼn uitgebreide soektog na ses vissers wat ter see vermis geraak het op ʼn grys vasteromp-opblaasboot. Die mans is vermoedelik van Houtbaai en Hawston in die Wes-Kaap. Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, sê hulle soek in die diepsee suid en suidwes van Kaappunt waar die vissermanne volgens berigte Saterdag visgevang het:
# Motorsport: Mercedes se Formule Een-hoof, Toto Wolff, erken die begin van die seisoen was vir die span baie moeilik. Albei jaers, Lewis Hamilton en George Russell, moes onttrek aan die Australiese Grand Prix, wat die Silver Arrows ná drie wedrenne vyfde op die vervaardigerspunteleer laat. Die sewemalige wêreldkampioen, Hamilton, het met enjinprobleme onttrek, terwyl Russell op die voorlaaste ronde ‘n ongeluk gemaak het. Wolff sê dit is duidelik dat die motor se werkverrigting tans nie op standaard is nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-962-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-162-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….