Nuus 11:00
BULLETIN 23 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE vorm ‘n alliansie met die tradisionele leiersgroep en stel sy
verkiesingsmanifes-bekendstelling uit
# Die IVP veroordeel die ANC se KwaZulu-Natal-voorsitter se ontwrigting van die premier se toespraak
# En, tennis: Sabalenka skop goed af by die Miami Ope
# Die Congress of the People het ‘n vennootskap gevorm met die tradisionele leiersgroep, Freedom in South Africa, in aanloop tot die verkiesing. Die leier van Cope Mosiuoa Lekota staan ‘n regeringsmodel voor waar koninkryke en koninklike huise mag het oor tradisionele politiek. Lekota sê hulle het samewerking van meer as 30 stamme, wat die idee steun om by Cope aan te sluit, omdat dit hulle ‘n platform gee om uiteindelik gesien en gehoor te word:
Cope het intussen vandag se bekendstelling van sy manifes in Hammanskraal, Tshwane, uitgestel weens, wat hy noem, kapasiteitskwessies. Die party se nasionale uitvoerende komitee het die besluit geneem nadat die aantal verwagte ondersteuners toegeneem het. Die komitee sê dit kon gelei het tot samedromming, wat ‘n stormloop kon veroorsaak het. Lekota gee die versekering die party bly veerkragtig. ‘n Nuwe datum vir die bekendstelling is nog nie aangekondig nie.
# Die IVP het die voorval veroordeel waartydens die ANC-voorsitter in KwaZulu-Natal, Siboniso Duma, die mikrofoon gegryp het by ‘n regeringsgeleentheid ter herdenking van koning Dinuzulu kaCetshwayo se dood. Duma se daad word blykbaar gesien as weerstand teen koning Misuzulu kaZwelithini se besluit om Thulasizwe Buthelezi as tradisionele premier aan te stel. Die IVP-president, Velenkosini Hlabisa, het Duma se optrede as skandelik en beledigend vir die Zoeloe-monarg en die hele Zoeloe-nasie beskryf:
# Dokters in Kenia se landwye staking gaan sy tweede week binne met meer as vier-duisend dokters wat meer betaling, beter werksomstandighede en omvattende mediese dekking eis. Die sekretaris-generaal van die Medical Practitioners, Pharmacists and Dentists Union, Davji Bhimji sê hulle eis ook die ontplooiing van een-duisend-200 mediese interns om ernstige tekorte te verlig. Bhimji benadruk, om vervangingsdokters tydens die verset te huur sal nie die onderliggende arbeidskwessies oplos nie:
# En, laastens, tennis: Die wêreldnommer-twee, Aryna Sabalenka, het gister teruggekeer na die baan en Paula Badosa van Spanje gemaklik met 6-4, 6-3 geklop om deur te dring na die derde ronde van die Miami Ope, dae na die dood van haar voormalige kêrel, Konstantin Koltsov. Reuters berig, ‘n lang en moeilike week vir die 25-jarige Belarussiese speler, wat ‘n loslootjie in die eerste ronde gehad het, is verder verleng, toe swaar reën uitgesak het oor die suide van Florida. Dit het spel met net meer as ses uur vertraag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….