Nuus 11:00
BULLETIN 8 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre ad hoc-komitee handel die beraadslaging oor sy voorlopige verslag af
# Solidariteit wen sy saak teen rassekwotas in die regsberoep
# En rugby: Scott Barrett is die eerste keer vanjaar in die All Blacks se opdrafspan vir die toets teen die Wallabies
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat polisiekorrupsie ondersoek, het beraadslaging oor sy voorlopige verslag van 790 bladsye afgehandel. Dit sluit bewerings in dat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat op spesiale verlof is, omkoopgeld ontvang het; Vusimuzi “Cat” Matlala se beweerde kontantbetalings aan die oudminister van Polisie, Bheki Cele; en die toekoms van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie. Die komitee se voorsitter, Soviet Lekganyane, sê die inhoud-span sal die voorlopige verslag redigeer voor dit na getuies gaan om kommentaar te lewer.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, se besluit tersyde gestel om Swart Ekonomiese Bemagtiging se Regsektor-kode in die Staatskoerant te publiseer. Dit stel teikens vir swart eienaarskap en leierskap in regsfirmas, wil geleenthede vir swart vroue uitbrei en meer werk na regsfirmas in swart besit verwys. Die hof het Tau gelas om die die kode te heroorweeg. Emil Glas van Solidariteit se regsnetwerk sê dis ‘n groot oorwinning oor die regering se roekelose rassebeleid:
# Die Gautengse regering veroordeel die moord op ʼn baba van vier maande en die beweerde verkragting van die ma in Atteridgeville, Tshwane. Volgens die polisie het ʼn pastoor en sy vrou die ma na die Hennopsrivier gelok onder voorwendsel van ʼn ritueel. Sy is vasgebind en na bewering verkrag voor die egpaar met die baba gevlug het. Die pastoor se vrou is aangekeer en die baba is in ʼn vlak graf gevind. Die provinsiale regeringswoordvoerder, Elijah Mhlanga, sê die pastoor is voortvlugtig:
Nuus uit die buiteland:
# New York se federale aanklaers beplan volgens berigte om nuwe aanklagte teen die voormalige president van Venezuela, Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores, in te dien. Dit hou verband met die beweerde marteling van meer as 10 Amerikaners wat onder Maduro se bewind verkeerdelik aangehou is. Matthew Heath en Osman Khan beweer hulle is blootgestel aan elektriese skokke, dreigemente van seksuele aanranding en dwelms. Maduro en Flores is in Januarie gevange geneem tydens ʼn militêre klopjag in Caracas. Hulle word aangekla van wapen- en dwelmoortredings, maar ontken dit.
# Rugby: Die voormalige All Black-kaptein, Scott Barrett, keer die eerste keer sedert November 2025 terug na die beginspan vir Saterdag se Bledisloebeker-toets teen Australië in Auckland. Sy broer, Beauden, vervang die beseerde Richie Mo’unga. Codie Taylor voer die span aan, terwyl Shannon Frizell op die bank wag vir sy eerste toets sedert die Wêreldbeker-eindstryd van 2023. Afrigter Dave Rennie sê hulle het groot respek vir die Wallabies en die manier waarop hulle speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-756-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-122-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….