Nuus 11:00
BULLETIN 22 Maart 11 vm
Goeiemôre
In die bulletin:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering gee haar aan die polisie oor
# Die DA dien ‘n mosie van wantroue in teen Mapisa-Nqakula
# En die VSA gaan vandag ‘n VN-resolusie indien wat ‘n dringende skietstaking in Gaza eis
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het haarself vanoggend aan die polisie in Pretoria oorgegee te midde van korrupsiebewerings teen haar. Sy word daarvan beskuldig dat sy meer as twee-miljoen-rand se tender-omkoopgeld van ʼn kontrakteur ontvang het terwyl sy die minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Mapisa-Nqakula sal volgens berigte vandag in die Hooggeregshof in Pretoria verskyn.
Die DA sê intussen hy het amptelik ‘n mosie van wantroue teen Mapisa-Nqakula ingedien, wat tans op spesiale verlof is. Siviwe Gwarube van die DA sê haar spesiale verlof is net ʼn rookskerm, en die enigste oplossing is dat sy moet bedank:
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge sê hy is versigtig optimisties oor die vordering met Kaapstad se sentrale spoorlyn. Dit volg na ʼn derde oorsigbesoek aan hierdie PRASA-spoorlyn asook verskeie ander op die roete. SKOOR se voorsitter, Mkhuleko Hlengwa, is vol hoop dat Kaapstad se sentrale spoorlyn volgens PRASA se sperdatum teen volgende maand in bedryf sal wees. Hy beklemtoon ook gevolgebestuur vir gewese PRASA-raadslede:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad gaan vandag stem oor ʼn resolusie wat ʼn onmiddellike skietstilstand tussen Israel en Hamas eis en dat alle gyselaars in Gaza vrygelaat word. Amerika het drie VN-skietstilstand-resolusies geveto. Blinken sê die resolusie is ʼn geleentheid vir die raad om met een stem te praat om die diplomasie op grondvlak te ondersteun en druk op Hamas te plaas om die ooreenkoms te aanvaar:
# Sokker: Die voormalige doelskopper van Brasilië en Manchester City, Robinho, is in hegtenis geneem om sy vonnis van nege jaar vir verkragting uit te dien. ʼn Hof het beslis die 40-jarige moet die tronkstraf in Italië uitdien. Hy en vyf ander Brasiliane is daaraan skuldig bevind dat hulle in 2013 ʼn vrou by ʼn nagklub in Milaan verkrag het. Hy is in sy tuisstad, Santos, aangekeer nadat sy prokureurs nie daarin kon slaag om sy tronkstraf uit te stel nie. Robinho het sy land in 100 wedstryde verteenwoordig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-51 sent teen die euro en 23-rand-92 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-296-dollar-25-sent. Die prys van goud is een-duisend-217-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….