Nuus 11:00
BULLETIN 7 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê die Openbare Beleggingskorporasie stel die Mpati-kommissie se aanbevelings in
# ‘n Tweede verdagte word aangekeer na die moord op die EFF-lid, Monica Dube
# En die terdoodveroordeelde Amerikaner Christa Pike is by haar bewussyn en praat na haar mislukte teregstelling
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die Openbare Beleggingskorporasie stel die aanbevelings van die Mpati-kommissie in. Die kommissie het talle aanbevelings gedoen gemik op versterking van bestuur, groter deursigtigheid, strenger beleggingsoorsig en om te verseker dat die korporasie slegs volgens die beste belang van kliënte en begunstigdes optree. Hy beveel ook aan dat raad-aanstellings nie polities moet wees nie. Godongwana sê veranderings aan aanstellings op die raad sal wets-wysigings noodsaak:
# Die Padvragvereniging sê die jongste brandstofprys-styging gaan verdere druk op vervoerkoste en voorsieningskettings plaas wat ‘n uitwerking op produkpryse sal hê. Brandstof maak tussen 35- en 55-persent van bedryfskoste uit, afhangende van die operasie, soort voertuig en roetes. Petrolpryse het met tussen drie-rand-12- en drie-rand-33-sent per liter gestyg, en dieselpryse met tussen twee-rand-84- en drie-rand-24-sent. Uitvoerende hoof Gavin Kelly sê vervoermaatskappye sal onvermydelik pryse moet verhoog:
# Die Gautengse taakspan oor politieke moorde het ʼn tweede verdagte aangekeer in verband met die moord op die EFF-lid, Monica Dube. Sy is in Junie voor haar gesin doodgeskiet by haar huis in Wallmannsthal, Tshwane. Hierdie jongste deurbraak volg na die inhegtenisneming van die eerste verdagte, Sipho Mahlangu, in Julie. Hy bly in aanhouding op aanklag van moord en roof. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die tweede verdagte verskyn later vandag in Cullinan se Landdroshof.
Nuus uit die buiteland:
# Die veroordeelde moordenaar Christa Pike is byna ʼn week ná haar mislukte teregstelling in Tennessee by haar bewussyn en kan praat. Die 50-jarige het verlede week twee dodelike inspuitings oorleef tydens haar beplande teregstelling. Sy is bewusteloos na die hospitaal geneem. Pike, wat in 1995 die doodstraf gekry het vir die moord op die 19-jarige Colleen Slemmer, sou die eerste vrou in meer as 200 jaar wees wat in Tennessee tereggestel word. Haar prokureurs sê haar vordering is medies ongekend, maar haar prognose is steeds onduidelik.
# Krieket: Australië se hoofafrigter, Andrew McDonald, het bevestig die veelsydige Cameron Green sal nie speel in die eerste toets teen Suid-Afrika wat Vrydag in Durban begin nie. Hy het verlede week ‘n buikbesering opgedoen tydens die derde eendagwedstryd teen die Proteas in Potchefstroom. Australië sal nou waarskynlik tussen Cooper Connolly en Nic Maddinson moet kies as nommer vyf-kolwer. McDonald sê Green herstel goed:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-193-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-131-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….