Nuus 11:00
BULLETIN 5 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie sê Suid-Afrika se fiskale strategie is op dreef ondanks geopolitieke spanning
# Donald Trump sê die Seestraat van Hormoes heropen binnekort, of Iran sal swaar gestraf word
# En rugby: Rassie sê Argentinië is die ideale toets vir terugkerende spelers
# Die Nasionale Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, sê geopolitieke spanning maak dit vir Suid-Afrika moeiliker om fiskale teikens te bereik en terselfdertyd noodsaaklike maatskaplike besteding te beskerm. Die fiskale strategie se doel is om die verhouding tussen skuld en bruto binnelandse produk in die 2025/26-boekjaar te bestendig en dan te verminder. Pieterse sê ondanks politieke onstuimigheid is die land op dreef om sy fiskale strategie na te kom. Hy sê fiskale geloofwaardigheid moet gekombineer word met hervorming wat nodig is om beter ekonomiese groei, belegging en werkskepping te ondersteun.
# Die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, waarsku dat swak beplanning, swak verkryging en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid die lewering van infrastruktuur kniehalter terwyl waterverliese mislukte stelsels ontbloot. Volgens die 2024/25-saamgestelde algemene verslag oor die nasionale en provinsiale oudit-uitkomste, was daar 109 vertragings by 152 infrastruktuurprojekte wat geoudit is. Die projekte kos saam 47,39-miljard-rand. Maluleke sê verwaarloosde instandhouding en swak oorsig in 257 munisipaliteite veroorsaak finansiële verliese en laat inwoners sonder basiese dienste:
# Die Kaapse Onafhanklikheidsvoorspraakgroep verwelkom die besluit van Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, om formeel ‘n tussenregeringsgeskil met die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, te verklaar. Hy wil hê Kaapstad se metropolisie en wetstoepassingsbeamptes moet wettig misdade kan ondersoek en dossiere vir vervolging opstel. Die leier van die groep, Phil Craig, sê dit moes lankal gebeur het aangesien die metro die kwessie sedert 2022 gereeld geopper het:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê die Seestraat van Hormoes sal binnekort heropen, want anders sal hy geen keuse hê as ʼn verwoestende nuwe aanval op Iran nie. Teheran ontken dat hy regstreeks met Washington onderhandel, en hou vol dat hy saam met Oman aan ʼn ooreenkoms werk om die seestraat te heropen. Die sluiting van hierdie belangrike seeweg het die wêreld se energiemark in chaos gedompel. Trump sê sy eerste keuse was nie hernude aanvalle nie, maar ʼn diplomatieke ooreenkoms met Iran.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê Saterdag se eenmalige toets teen Argentinië is die perfekte geleentheid vir verskeie terugkerende spelers om hul wedstrydvaardighede te slyp. Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Lood de Jager en Sacha Feinberg-Mngomezulu begin teen Los Pumas nadat beserings hulle die begin van die seisoen laat misloop het. Erasmus sê die kragmeting met ‘n sterk Argentynse span is die beste manier om spelers se vordering na ‘n besering te beoordeel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-166-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-172-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 82-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….