Nuus 11:00
BULLETIN 20 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daniel Silke glo die ANC kan steeds 50-persent haal in die verkiesing
# Die VF Plus kritiseer president Ramaphosa omdat hy Dipuo Peters geskors het en nie afgedank het nie
# En die Amerikaanse Appèlhof steek ’n stokkie voor Texas se omstrede Immigrasiewet
# Die politieke ontleder, Daniel Silke, sê die algemene verkiesing op 29 Mei is die belangrikste sedert 1994. Dit vind vandag oor 70 dae plaas. Die Brenthurst-stigting se jongste peiling is een van vele wat voorspel die ANC gaan minder as 50-persent kry. Silke sê as die ANC se verkiesingsveldtog bo verwagting verloop, kan dit splintergroepe motiveer om weer vir die party te stem en so sy grootste uitdaging sedert die begin van demokrasie te oorkom:
# Die Vryheidsfront Plus sê president Cyril Ramaphosa se minagtende reaksie op die adjunkminister van Kleinsake-ontwikkeling, Dipuo Peters, se skorsing, wys die regering is nie ernstig om korrupsie uit te wis nie. Ramaphosa sê sy besluit om Peters weens haar betrokkenheid by staatskaping sonder betaling te skors en nie af te dank nie, is ‘n gepaste straf. Die VF Plus se leier, Pieter Groenewald, sê die regering gaan voort om sy kaders skaamteloos te beskerm:
# RISE Mzansi vra die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum en die Nasionale Persklub om die komende openbare debat van Gautengse premierskandidate aan te bied. RISE Mzansi se kandidaat, Vuyiswa Ramokgopa, sê hy sal die kandidate van ActionSA, die EFF en die DA om ‘n skriftelike verbintenis vra. Ramokgopa het reeds die ANC-premier, Panyaza Lesufi, gevra om deel van die paneel te wees. Hy het die belangrikheid beklemtoon van ‘n leier wat veiligheid, onderwys, gesondheidsorg, dienslewering en werkskepping voorop stel.
# # ‘n Amerikaanse Federale Appèlhof het Texas verhoed om sy omstrede Immigrasiewet toe te pas, slegs ‘n paar uur nadat die Hoërhof dit goedgekeur het. Die SB4-wet gee die polisie wye magte om migrante wat vermoedelik die Amerikaans-Meksikaanse grens onwettig oorgesteek het, in hegtenis te neem. Die straf vir onwettige binnekoms is tot 20 jaar tronkstraf. Die Appèlhof se bevel bly van krag totdat Texas versoek dat hy intussen toegelaat te word om die wet toe te pas, terwyl die Appèlhof vandag betoë oor die regsgeldigheid daarvan aanhoor.
# Tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen, Andy Murray van Skotland, kom vandag te staan teen die Italianer Matteo Berrettini in die eerste ronde van die Miami Ope. Berrettini het in Januarie 2022 sy hoogste wêreldranglysposisie van sesde bereik, maar ‘n reeks beserings het hom laat terugsak na 125ste. Murray, wat in 2016 nommer een was, is nou 61ste. Die gewilde Japanse speler Kei Nishikori keer terug na die toer na ‘n beseringsonderbreking van sewe maande, en pak Sebastian Ofner van Oostenryk in die ronde van 128.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-115-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-157-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….