Nuus 11:00
BULLETIN 19 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC hou vol die registrasieproses van die uMkhonto weSizwe Party was onwettig
# Minister Lamola keur die uitleweringsversoek goed vir die Ndimande-broers wat met AKA se moord verbind word
# En, Statebondspele: Maleisië kan dalk ’n kleiner geleentheid in 2026 aanbied
# Die Verkiesingshof in Bloemfontein sal vandag die ANC se aansoek aanhoor waarin hy die registrasie van die uMkhonto weSizwe-party betwis. Die ANC voer in sy hofdokumente aan die adjunk-verkiesingsbeampte, Mawethu Mosery, het ‘n gebrekkige proses gevolg om die MK te registreer. Die MK-party, wat deur oudpresident Jacob Zuma gesteun word, hou egter vol sy registrasie was wettig. Die ANC sê die hof se beslissing sal ‘n groot uitwerking hê op die beskerming van die kiesstelsel.
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, het ‘n versoek dat Siyabonga en Malusi Ndimande van Eswatini aan Suid-Afrika uitgelewer word, goedgekeur en oorgedra. Die broers word verbind met die moord op die kletsrymer Kiernan AKA Forbes en sy vriend, Tebello Motsoane, in Durban verlede jaar. Altesaam sewe verdagtes is in verband met die moorde aangekeer. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê Suid-Afrika is gereed om met Eswatini saam te werk aan die saak:
# Johannesburg se burgemeester, Kabelo Gwamanda, sê ʼn ondersoek is aan die gang om die oorsaak van die Eikenhof-pompstasie se kragonderbreking gisteraand en die uitwerking daarvan vas te stel. Weerlig het vermoedelik die uitskakeling veroorsaak. Twee weke gelede het weerlig die Orlando-substasie laat uitskakel en ʼn reeks wateronderbrekings in die stad veroorsaak. Gwamanda sê ʼn paar watervoorsieningstelsels word geraak en is leeg, maar ʼn omvattende assessering sal gedoen word. Die Watervaltoring en Orlando-Oos-reservoir word onder meer geraak.
# Statebondspele: Maleisië se regering sal dié week besluit of hy ‘n beperkte Spele in 2026 sal aanbied, terwyl die Statebondspele-federasie sukkel om ‘n nuwe gasheer te kry. Die Australiese staat Victoria het verlede jaar onttrek weens stygende koste. Hy het later ingestem om ‘n skikking van 4,5-miljard-rand te betaal. Die federasie het Maleisië 2,4-miljard-rand aangebied om gasheer te wees van die geleentheid wat hy laas in 1998 aangebied het. Kostebesparingsmaatreëls sluit kleiner openings- en afsluitingseremonies in, standaard hotelle en verblyf vir atlete, en net tien sportsoorte in plaas van 15.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-en-98-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-155-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-73-sent per vat.
# En ter afsluiting, die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, sê die regering waardeer die betekenisvolle rol wat maatskaplike werkers in die land en in gemeenskappe speel. Dis vandag Wêreld Maatskaplike Werkdag en die tema is Gedeelde toekoms vir herskeppende verandering. Die departement se woordvoerder, Lumka Oliphant, sê die dag beklemtoon die behoefte dat maatskaplike werkers vernuwende, mens-gesentreerde en gemeenskapsgeleide ingrypings gebruik wat in endemiese wysheid en harmonieuse saambestaan gevestig is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….