Nuus 11:00
BULLETIN 18 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê menseregte vir sommige beteken menseregte vir niemand nie
# Cosatu vra vir die spoedige goedkeuring van alle finansiële wetgewing
# En, lande sê Rusland se verkiesings was nie vry en regverdig nie
# President Cyril Ramaphosa sê Menseregtemaand bied ‘n geleentheid om te besin oor die vooruitgang wat die afgelope drie dekades gemaak is om die Handves van Menseregte te bevorder. Hy sê die regering moet eerlik besin oor waar hy te kort geskiet het. Hy het voor Menseregtedag op Donderdag in sy weeklikse nuusbrief gesê miljoene Suid-Afrikaners ervaar ‘n gebrek aan toegang tot basiese dienste, werkloosheid en ‘n gebrek aan geleenthede, wat hulle waardigheid aantas. Hy sê die regering sal voortgaan om die menseregte van álle burgers te bevorder en te beskerm.
# Cosatu sê dit is noodsaaklik dat die Wysigingswetsontwerp op Inkomste én die Twee-pot-hervormings-wysigingswetsontwerp bespoedig en gou deur die huise van die Parlement aanvaar moet word, voor hulle vir die verkiesing in Mei verdaag. Indien nodig moet die Parlement sy verdaging vertraag. Cosatu se waarnemende woordvoerder, Matthew Parks, sê dit is die sleutel tot die aanpassing van die belastingstelsel en pensioenfondsregulasies:
# Die DA in Gauteng verwelkom die Hooggeregshof in Johannesburg se afwysing van die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se aansoek om Gautengse organisasies sonder winsbejag se stille verset van vandag af by sy gebou te verhoed. Die hof het beslis mense mag hulle grondwetlike reg uitoefen om te betoog. Refiloe Nt’sekhe van die DA sê die departement sloer met terugvoering oor organisasies se aansoeke vir fondse:
# Amerika sê Rusland se verkiesing was nie vry of regverdig nie omdat president Vladimir Putin politieke teenstanders in die tronk gegooi en ander gekeer het om teen hom te staan. Putin het ‘n gemaklik ‘n sesde termyn gewen met 87-persent steun nadat geen geloofwaardige teenstanders toegelaat is om deel te neem nie. Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, sê Putin is verslaaf aan mag en hierdie nagebootste verkiesing is onregmatig. Duitsland se ministerie van Buitelandse Sake noem dit ʼn kamma-verkiesing onder ʼn outoritêre heerser wat staatmaak op sensorskap, onderdrukking en geweld.
# Sokker: Manchester United se hoop op ʼn trofee hierdie seisoen is steeds lewend ná ʼn dramatiese sege in ʼn FA-beker-kwarteindstryd teen Liverpool op Old Trafford. Erik ten Hag se span het twee keer in die wedstryd van agter ingehaal en die plaasvervanger Amad Diallo het uiteindelik die wendoel aangeteken. Die verdedigende kampioen, Manchester City, kom in die halfeindronde op Wembley teen Chelsea te staan terwyl United en Coventry sake sal uitspook. Ten Hag is baie tevrede met sy spelers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-290-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-148-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….