Nuus 11:00
BULLETIN 28 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in die Wedela-massaskietery in Gauteng styg tot 18
# Ramaphosa sê die opheffing van polisiekommissaris Fannie Masemola se skorsing word oorweeg
# En tennis: Zverev lei Span Europa na ‘n sesde Laverbeker-titel
# Die dodetal na die massaskietery by die Wedela-taverne aan die Gautengse Wes-Rand het tot 18 gestyg nadat ‘n slagoffer in die hospitaal dood is. Agt mans met AK-47-gewere en pistole het Saterdagaand toegeslaan en 13 mans en vier vroue is op die toneel dood. Sommige mense is blykbaar deursoek en hul selfone gesteel voor die aanvallers weggejaag het. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê die motief vir die aanval is nie bekend nie:
# President Cyril Ramaphosa oorweeg dit om die skorsing van nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola op te hef. Die Nasionale Vervolgingsgesag het verlede week die aanklagte teen hom formeel teruggetrek. Die Onafhanklike Direktoraat teen Korrupsie het hom aanvanklik aangekla en in hegtenis geneem vir beweerde oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur weens kommer oor die nakoming van regulasies vir openbare finansies. Ramaphosa het die publiek versoek om geduldig te wees en op ‘n uitkoms te wag.
# Forum for South Africa verwelkom die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, se oproep vir dringende hervorming van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en die breër wêreldwye bestuurstelsel. Leier Tebogo Mashilompane sê Afrika dra ‘n buitensporige las van konflikte wat deur die Veiligheidsraad bespreek word terwyl die vasteland nie oor permanente verteenwoordiging beskik nie. Hy steun die oproep van die Afrika-unie se konsensus-standpunt vir permanente verteenwoordiging op die raad:
# Die Britse minister van Verdediging, Wes Streeting, sê teenterrorisme-polisie lei die ondersoek na ʼn ernstige voorval naby die Lugmagbasis Fairford in Gloucestershire. Vyf mans is gister vasgetrek vir beweerde voorbereiding om terreur te pleeg en plofstof-oortredings toe hulle op pad was na die basis. Die Amerikaanse Leër het dit onlangs gebruik as basis vir verdedigingsaanvalle teen Iran. Streeting sê hy het met sy Amerikaanse ampsgenoot, Pete Hegseth, oor die voorval gepraat:
# Tennis: Span Europa het sy sesde Laverbeker-titel ingepalm met ‘n sege van 13-5 oor Span Wêreld in die O2-arena in Londen. Flavio Cobolli en Jakub Mensik het Europa gister op die voorvoet geplaas met ‘n oorwinning oor Alex de Minaur en Taylor Fritz voor die tweemalige Grand Slam-kampioen, Alexander Zverev, die oorwinning beklink het deur Learner Tien te klop. Dit is Yannick Noah se eerste Laverbeker-titel as kaptein nadat hulle verlede jaar in San Francisco teen Andre Agassi se Span Wêreld verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-970-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-152-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 103-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….