Nuus 11:00
BULLETIN 12 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK-amptenaar verantwoordelik vir die uitlek van die ANC- en die MK se kandidaatlyste word afgedank
# Die adjunkpresident sal vandag vrae beantwoord in die Nasionale Raad van Provinsies
# En tennis: Novak Djokovic word uitgeskakel by Indian Wells
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het ‘n amptenaar afgedank wat die ANC en uMkhonto we Sizwe se kandidatelys laat uitlek het. Die twee lyste is verlede week op sosiale media gesirkuleer, slegs ure nadat die partye dit ingedien het. Die OVK sê sy voorlopige ondersoek toon die dokumente is van ‘n rekenaar by sy hoofkwartier geskep voor dit gewis is. Uitvoerende hoof Sy Mamabolo sê die amptenaar het ‘n voorlegging gedoen oor hoekom sy nie afgedank moet word nie, maar is toe op grond daarvan in die pad gesteek.
# Adjunkpresident Paul Mashatile beantwoord vanmiddag vrae in die Nasionale Raad van Provinsies. Hy sal onder meer vrae hanteer oor Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Geregshof, jeugwerkloosheid, en ekonomiese groei. Mashatile se waarnemende woordvoerder, Keith Khoza, sê die adjunkpresident sal dit benadruk dat die land se saak teen Israel nie nasionale pogings beïnvloed wat daarop gerig is om maatskaplike eenheid te bevorder nie:
# Die DA in Gauteng sê hy het ‘n skriftelike versoek aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gerig vir ‘n dringende ondersoek na die waterkrisis in die provinsie. Inwoners sukkel steeds met watertoevoerprobleme wat verskeie gebiede raak, insluitend Linden en Blairgowrie in Randburg. Solly Msimang van die DA sê die ekonomiese spilpunt van die land waarvan die waterstelsel besig is om in duie te stort, is onaanvaarbaar en die ANC provinsiale regering moet die skuld kry:
# Die beleërde eerste minister van Haïti, Ariel Henry, het bedank na weke lange druk op hom om uit te tree omdat die land in chaos gedompel is. Bendes val regeringstrukture aan terwyl maatskaplike orde op die rand van ineenstorting is. Henry is tans in Puerto Rico gestrand omdat gewapende bendes keer dat hy terugkeer huis toe. Die 74-jarige Henry sê sy regering sal die mag oorgee nadat ‘n oorgangsraad gestig is. Hy sê Haïti het vrede en bestendigheid nodig.
# Tennis: Die kwalifiseerder Luca Nardi het die wêreld nommer een, Novak Djokovic, in die derde ronde van die Indian Wells-ope uitgeskakel. Die 20-jarige Italianer, wat nommer 123 in die wêreld is, het die Serwiër 6-4, 3-6, 6-3 uitgestof in die grootste oorwinning van sy loopbaan. Hy is die laagste geplaaste speler nóg wat Djokovic verslaan in ‘n ATP Meesters Een-duisend- of ‘n Grand Slam-toernooi. Nardi sê hy is geïnspireer deur die onlangse welslae van sy landgenoot, Jannik Sinner:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-168-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-176-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….