Nuus 11:00
BULLETIN 27 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Altesaam 27 mense is laasnag in twee afsonderlike taverne-slagtings doodgeskiet en 26 gewond
# Die Patriotic Alliance wil onwettige immigrasie en eiendomsbesit Teiken
# En rugby: Mzwandile Stick is opgewonde om die ‘nuwe’ Springbokspan vandag in aksie te sien
# Die polisie in Gauteng is op soek na agt onbekende gewapende mans ná ‘n dodelike skietvoorval gisteraand by ‘n taverne in Wedela-Uitbreiding 3, in die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit. Altesaam 17 mense is doodgeskiet en 15 gewond. Kliënte het binne en buite die taverne gekuier toe die verdagtes opgedaag en op die mense buite losgebrand het. Hulle het daarna die taverne binnegegaan en voortgegaan om op die kliënte te skiet. Die polisiewoordvoerder, Brenda Muridili, sê die verdagtes het na bewering sommige kliënte deursoek en hul selfone gesteel:
Intussen het die Wes-Kaapse polisie ‘n multidissiplinêre ondersoek van stapel gestuur nadat tien mense vroeg vanoggend by ‘n taverne in Lwandle, naby die Strand, doodgeskiet is. Polisiewoordvoerder Novela Potelwa sê gewapende mans het die vermaaklikheidsplek voor twee-uur binnegegaan en op klante begin skiet. Sy sê vyf mense is op die toneel dood, terwyl nog vyf later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het. Sy sê elf ander ontvang mediese behandeling:
# Die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, sê die party beplan om onwettige immigrasie uit te wis en kwessies rondom eiendomsbesit landwyd aan te spreek. McKenzie het tydens die bekendstelling van die PA se plaaslikeregeringsverkiesingsmanifes in Bloemfontein gesê munisipaliteite moet die toepassing van verordeninge versterk en plaaslike sakeondernemings reguleer. Hy sê die party wil ook die oordrag van titelaktes aan inwoners wat kwalifiseer vir munisipale behuising bespoedig, aangesien huiseienaarskap die sleutel tot die opbou van gesinswelvaart is:
# Die DA in Tshwane vra die metro om ‘n hofuitspraak teen die Mpumalanga-agentskap vir Ekonomiese Groei te gebruik om eienaarskap van die Ekandustria-nywerheidspark te verseker. Die Hooggeregshof in Pretoria het MEGA opdrag gegee om Tshwane meer as 231-miljoen-rand te betaal vir water-, sanitasie- en elektrisiteit-dienste. Cilliers Brink van die DA sê die nywerheidspark het oor jare van verwaarlosing duisende werksgeleenthede verlore laat gaan. Hy sê as dit onder Tshwane se beheer is, kan dit privaat belegging lok en indiensneming laat herleef.
# Die organisasie, Missing in Southern Africa, waarsku teen die toenemende plasing van ongetoetste inligting oor vermiste persone op sosiale media en boodskap-platforms. Die organisasie sê wanneer inligting geplaas word sonder om dit met familie en die polisie te koördineer, kan dit verwarring veroorsaak, ondersoeke vertraag en druk op families en die polisiebeamptes plaas. MISA-woordvoerder, Priya Ranchod, sê die hantering van ʼn vermistepersoon-saak behels baie meer as die skep en plasing van ʼn strooibiljet:
# En rugby: Springbok-hulpafrigter Mzwandile Stick sê die Bokke berei voor vir ‘n strawwe stryd teen die Wallabies vandag in Perth, met die afsluiting van die deel van hul internasionale seisoen. Stick sê hy is opgewonde ander spelers kry ‘n geleentheid ná ‘n uitmergelende vier weke teen die All Blacks. Veral spelers soos Canan Moodie en Handré Pollard, wat in een van die wedstryde kon speel, as hulle nie beseer was nie. Die wedstryd op die Optus-stadion skop om kwart-voor-twaalf af.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….