Nuus 11:00
BULLETIN 11 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Nuwe Brenthurst-peiling dui aan die uMkhonto we Sizwe Party kan beter vaar as die EFF
# Die regering bestee meer as tien-miljoen-rand aan geskorste direkteurs-generaal
# En, nuusagentskappe onttrek die jongste foto van die prinses van Wallis weens moontlike manipulasie
# Dit wil voorkom of die ANC se steun steeds tuimel, en teen 39-persent op die oomblik, lyk ‘n koalisieregering meer waarskynlik. Die jongste syfers volgens ‘n nuwe nasionale opname deur die Brenthurst-stigting, toon steun vir die DA het op nasionale vlak tot 27-persent gestyg. Die MK Party is op 13-persent, en die EFF is tans op tien-persent. In Gauteng is die Veelpartyhandves se steun 38-persent, terwyl die ANC se steun op 34-persent lê. In KwaZulu-Natal sal MK volgens aanduidings die grootste party wees, met 25-persent van die stemme, terwyl die ANC tans 20-persent steun geniet.
# Die regering het die afgelope paar jaar meer as tien-miljoen-rand bestee aan direkteurs-generaal wat met volle betaling geskors is. Dit het aan die lig gekom in ‘n geskrewe antwoord van die Presidensie op ʼn DA-vraag in die Parlement. Die direkteurs-generaal word onder meer ondersoek weens bewerings van wangedrag in die 2020/21- en 2022/23-boekjaar. Die direkteur-generaal van Verdediging en Militêre Veterane, Irene Mpolweni, is sedert Maart verlede jaar geskors. Mimmy Gondwe van die DA sê dis kommerwekkend:
# Johannesburg Water sê hy gaan vandag meer watertenkwaens na verskeie gebiede in Randburg ontplooi om die watertekort-krisis te help verlig. Sewe reservoirs het gister leeg geloop, en groot dele van Randburg is sonder water gelaat. Dié voortslepende waterkrisis het ontstaan nadat weerlig verlede week die Eikenhof-pompstasie getref het. Johannesburg Water se woordvoerder, Nombuso Shabalala, sê tegniese spanne monitor die vordering van die Linden Een- en Blairgowrie-reservoirs, wat steeds op die oomblik fokus-areas is:
# Talle groot nuusagentskappe het ʼn foto van die prinses van Wallis en haar kinders onttrek en sê hulle vermoed dit is gemanipuleer. Kensington-paleis het gister die foto uitgegee wat prins William geneem het. Dis die eerste foto van Catherine sedert haar maagoperasie in Januarie. Associated Press sê een van die dinge wat hy in die foto opgemerk het, is die posisie van prinses Charlotte se linkerhand. Reuters en die Franse nuusagentskap, Agence France-Presse, het ook die foto onttrek.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is deur na die vierde ronde van Indian Wells. Die Spanjaard het die Kanadees Felix Auger-Aliassime 6-2, 6-3 verslaan, om sy wenlopie in die Amerikaanse toernooi tot agt wedstryde te verleng. Die derde gekeurde Jannik Sinner van Italië het Jan-Lennard Struff van Duitsland 6-3, 6-4 geklop om tot die ronde van 16 deur te dring, terwyl die elfde-gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland die Amerikaner Frances Tiafoe in skoon stelle verslaan het. Alcaraz sê hy is op die oomblik regtig gelukkig met sy spelpeil:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-849-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-179-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….