Nuus 11:00
BULLETIN 25 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Israel se optrede in Gaza kom neer op volksmoord
# My Vote Counts vra politieke partye om koalisieplanne voor die verkiesing bekend te maak
# En rugby: Duane Vermeulen sê die Bokke neem nie die eenmalige toets teen Australië ligtelik op nie
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Israel se voortgesette oortreding van internasionale en humanitêre reg kom neer op volksmoord. Hy het die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York toegespreek. Suid-Afrika het in Desember 2023 ‘n saak teen Israel aanhangig gemaak in die Internasionale Geregshof en aangevoer dat hy volgens die Volksmoordkonvensie sy verpligtinge skend wat Palestyne in Gaza betref. Lamola sê die land reken die internasionale gemeenskap moet optree om die straffeloosheid te beëindig:
Lamola sê ook die herstel van vertroue in multilateralisme sal nie plaasvind sonder betekenisvolle hervorming van globale bestuur nie, hoofsaaklik die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad. Hy vra ‘n permanente posisie vir Afrika op die raad. Lamola sê Afrika is die tuiste van sowat ‘n vyfde van die wêreldbevolking en Afrikalande maak saam meer as ‘n kwart van VN-lidlande uit:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê Suid-Afrika is gereed om te onderhandel met Amerikaanse maatskappye wat soek na veilige bronne van kritieke minerale en nywerheidsinsette. Hy het deelgeneem aan die Kritieke Metale-rondetafel in New York. Tau het die stigting van ‘n Suid-Afrikaans-Amerikaanse Kritieke Minerale-werksgroep voorgestel. Hy sê Suid-Afrika kan bydra tot minerale bronne, verwerking, nywerheids-infrastruktuur en toegang tot waardeskakels, terwyl Amerika kapitaal, tegnologie, markte, nywerheidskennis en langtermyn-aanvraag kan bring.
# My Vote Counts het 20 politieke partye gevra om kiesers in te lig oor hoe hulle koalisie-onderhandelinge voor en ná die plaaslike verkiesing sal benader. Die aantal rade sonder ‘n algehele meerderheid het meer as verdubbel – van 27 ná 2016 se verkiesing tot 66 ná 2021 s’n. My Vote Counts sê kiesers behoort nie vir ‘n party te stem om eers ná die verkiesing uit te vind dat hul stem bygedra het tot ‘n bestuursreëling wat hulle nooit sou ondersteun het nie. Die organisasie sê deursigtige ooreenkomste is noodsaaklik vir verantwoordbare koalisies.
# Rugby: Springbok-hulpafrigter Duane Vermeulen ontken dat hoofafrigter Rassie Erasmus se 13 veranderinge aan die beginspan vir die eenmalige toets teen die Wallabies ‘n gebrek aan respek is. Suid-Afrika speel Sondag se toets in Perth ná ‘n veeleisende reeks van vier wedstryde teen die All Blacks. Australië is sewende op die wêreldranglys, maar onoorwonne onder hul nuwe afrigter, Les Kiss. Vermeulen verwag die Wallabies sal uiters vasberade wees en die Bok-voorspelers uitdaag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-834-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-276-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 103-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….