Nuus 11:00
BULLETIN 24 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa lei vandag die nasionale Erfenisdag-vieringe in die Wes-Kaap
# Die DA wil weet waarom die vieringe op die laaste nippertjie na die Wes-Kaap verskuif is
# En Namibië skort die beweging van spleethoefdiere op weens ‘n uitbreking van bek-en-klouseer
# President Cyril Ramaphosa sal vandag die Nasionale Erfenisdag-vieringe by die Rosemoor-stadion in Thembalethu, George, in die Wes-Kaap lei. Die viering vind plaas onder die tema: “Vier ons lewende erfenis: Versterk die bande wat ons verenig“. Die Presidensie sê die tema beklemtoon die rol van ‘n lewendige erfenis in die bevordering van nasionale eenheid, maatskaplike samehorigheid, Ubuntu en ‘n gedeelde gevoel van geborgenheid. Volgens die Presidensie het die land, sedert die koms van demokrasie, die erfenissektor toenemend heroriënteer om inklusiwiteit, regstelling en kulturele demokrasie in te sluit.
Die DA vra intussen die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, om rekenskap te gee oor die verskuiwing ter elfder ure van die nasionale Erfenisdag-vieringe na die Wes-Kaap. Die geleentheid was oorspronklik vir KwaZulu-Natal beplan om saam te val met uMkhosi weLembe, die Zoeloe-nasie se jaarlikse herdenking van koning Shaka. McKenzie het egter gesê daar is ná samesprekings besluit dat uMkhosi weLembe sy eie, afsonderlike dag verdien. Benedicta van Minnen van die DA sê die laat-verandering laat vrae ontstaan oor die beplanning en openbare fondse:
# Bek-en-klouseer is in Namibië aangemeld nadat tien beeste op ‘n kommersiële plaas in die Karasburg-staatsveeartsdistrik in die Khara-streek positief getoets het. Dit volg terwyl Suid-Afrika met sy ergste uitbreking van die siekte worstel en die regering beplan om 80-persent van sy nasionale beeskudde van sowat 14-miljoen diere in te ent. Die waarnemende minister van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming, doktor Charles Mubita, sê die uitbreking het die regering genoop om onmiddellike beheermaatreëls kragtens die Wet op Dieregesondheid in te stel:
# Die Landbank het nuwe aansoeke vir sy gemengde finansieringskema tydelik opgeskort nadat die vraag na bekostigbare landboufinansiering die beskikbare toekenningsfondse oorskry het. Die skema het sedert sy bekendstelling in 2022 reeds 540 begunstigdes ondersteun. Die opskorting sal vir die res van die 2026/2027-boekjaar van krag bly, tensy bykomende befondsing beskikbaar gestel word. Die skema is nie gestaak nie en sal na verwagting in die volgende boekjaar weer vir nuwe aansoeke open, terwyl boere intussen vir ander landbouleningsprodukte kan aansoek doen.
# Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, het Vladimir Putin as “pasiënt zero” bestempel en gesê die Russiese leier versprei oorlog en onbestendigheid. In sy toespraak voor die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in New York sê hy hoe meer vryheid Putin het om op te tree, hoe gevaarliker word die wêreld vir almal. Zelensky sê dit gaan vir Oekraïne oor die beskerming van kritieke infrastruktuur, voedselsekerheid en lewens, asook die vertraging van die ontwikkeling van dodelike wapens:
# En tennis: Alexander Zverev en die kaptein van die Wêreld-span, Andre Agassi, het vir die Laver-beker opgekom in die aanloop tot vanjaar se Londen-toernooi. Die driedaagse geleentheid begin môre op die O2-arena, waar Europa teen die res van die wêreld te staan kom. Agassi sê die atmosfeer is skouspelagtig en die mededinging is altyd intens. Zverev, wat vroeër die maand die Amerikaanse Ope gewen het, sê hy geniet dit om in ‘n span te speel en is steeds lojaal teenoor ‘n geleentheid, wat hom in die verlede ondersteun het. Carlos Alcaraz, Taylor Fritz en Alex de Minaur is van die ander topspelers wat deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….