Nuus 11:00
BULLETIN 7 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê die wêreld het ‘n verpligting om die lyding in Gaza te stop
# Die DA sê minister Gordhan se toesmeerdery van die SAL-Takatso-transaksie is kommerwekkend
# En tennis: Rafael Nadal onttrek hom aan die Indian Wells-ope
# Die regering sê die wêreld het ‘n verpligting, om te doen wát ook al gedoen moet word, om verdere lyding en lewensverlies in Gaza te stop. Die SA regering het weer die Internasionale Geregshof genader met ‘n dringende aansoek, dat die voorlopige maatreëls wat die hof in Januarie teen Israel gelas het, versterk moet word om ‘n katastrofiese hongersnood in die strook te voorkom. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die Verenigde Nasies het gewaarsku dat een uit elke vier mense in Gaza hongersnood in die gesig staar:
# Die DA is teleurgesteld deur die parlementêre regsdienste se besluit om die ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Takatso-konsortium geheim te hou. Die Parlement se regsadviseur, Andile Tetyana, sê die ooreenkoms wat in Junie 2021 onderteken is, moet vertroulik bly omdat dit nog nie afgehandel is nie. Die DA sê nadat 38,1-miljard-rand se belastinggeld as reddingsboei gebruik is en nog miljarde nodig is vir herkapitalisering, is dit onredelik dat die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, steeds dink landsburgers verdien nie om te weet waaroor die ooreenkoms gaan nie.
# Die Vryheidsfront Plus sê die ANC/EFF-bewind in Ekurhuleni aan die Gautengse Oos-Rand se aansuiweringsbegroting is gemik op stemwerwing vir die algemene verkiesing en nie om dienslewering te verbeter nie. Denise Janse van Rensburg van die VF Plus sê die aanpassings aan sommige departementele begrotings bevorder nie basiese dienslewering aan inwoners wat getrou hulle munisipale rekeninge betaal nie. Sy sê dis duidelik die metro se begroting sal nie alle inwoners dien nie:
# Tennis: Die driemalige kampioen, Rafael Nadal, het hom aan die Indian Wells-ope onttrek en sê hy is nie gereed om op die hoogste vlak te speel nie. Die 37-jarige Spanjaard het in Januarie in Brisbane teruggekeer nadat ‘n heupbesering hom byna ‘n jaar lank uit die spel gehou het. Nadal, wat in die eerste ronde teen die Kanadees Milos Raonic sou speel, is vervang deur die gelukkige verloorder, Sumit Nagal. Hy is die eerste Indiese mededinger in die hooftrekking van ‘n ATP Meesters-eenduisend-byeenkoms sedert Prajnesh Gunneswaran in Miami in 2019.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-881-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-155-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-88-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Helderberg Academy of Theatre bied sy derde kinderproduksie, Peter Pan, by die Playhouse in Somerset-Wes in Kaapstad aan. Francois Retief speel die hoofrol as die dikwels chaotiese maar altyd welmenende Peter Pan, terwyl Captain Hook deur Leizl Rice vertolk word. Sheraine de Vries verras gehore met haar vertolking van die parmantige Tinkerbell. Darryl Spijkers is die regisseur en die verteller is die Playhouse-gunsteling, Zané Habig. Die produksie begin vandag en die speelvak duur tot die 16de van die maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….