Nuus 11:00
BULLETIN 3 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Holomisa sê vanjaar se verkiesing is ‘n waterskeiding
# Nicaragua dien ‘n aanklag teen Duitsland by Internasionale Geregshof in oor sy hulp aan Israel
# En, tennis: Die Kruger-susters speel ‘n tweede plek los in die WIPHOLD-toernooi
# Die leier van die United Democratic Front, Bantu Holomisa, sê vanjaar se verkiesing is een van die belangrikste gebeure in die land se geskiedenis. Holomisa het tydens die party se manifesbekendstelling in Midrand, Johannesburg, gepraat. Hy sê dit sal hopelik die een oomblik wees wanneer die land hom verlos van die ANC se eenparty-oorheersing en die korrupsie wat hy die afgelope 30 jaar toegelaat het. Volgens Holomisa sal dit die oomblik wees wanneer die mense van Suid-Afrika hulle nommer-een plek op die nasionale agenda herwin:
Die leier van die Pan Africanist Congress of Azania, Mzwanele Nyhontso, sê intusen soos sake nou in die land staan, is alle mense nie dieselfde nie. Nyhontso het die party se 2024 verkiesingsmanifes in Orlando, Soweto, bekendgestel. Hy sê alle verraderlike dade moet veroordeel word. Hy voeg by daar moet nie enige ruimte wees vir korrupsie, selfsug en misdadige optrede deur burgers en leiers op enige vlak nie, maak nie saak wie jy is nie. Nyhontso eis alle Suid-Afrikaners moet gelyk voor die reg behandel word:
# Nicaragua het ‘n aanklag by die Internasionale Geregshof teen Duitsland ingedien vir sy verskaffing van finansiële en militêre hulp aan Israel en die onttrekking van sy fondse aan die VN se Palestynse vlugtelingagentskap. Nicaragua het die hof versoek om noodmaatreëls uit te reik en Berlyn se militêre hulp aan Israel te keer, en om sy besluit oor befondsing van die Palestynse vlugtelinge om te keer. Nicaragua voer in sy hofaansoek aan Duitsland skend die 1948-Volksmoordkonvensie en die 1949 Geneefse Konvensie oor oorlogswette in die besette Palestynse gebiede.
# Tennis: Isabella en Zoe Kruger het gister ‘n indrukwekkende wedstryd teen formidabele teenstanders gespeel, maar hulle is uiteindelik in die dubbelspel-eindstryd van die WIPHOLD-internasionale toernooi in Pretoria geklop. Die Russiese paar, Alina Charaeva en Ekaterina Reyngold, het die Kruger-susters is in die eerste stel totaal oorheers. Hulle het in die tweede stel teruggeveg, maar Charaeva en Reyngold het hulle spelpeil behou en met 6-0, 5-7 en 10-3 gewen. Isabella en Zoe is die dogters van die Springbok Ruben Kruger wat in die 1995 Wêreldbeker-wenspan was.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram sê die ontginning van die aarde se natuurlike hulpbronne het die afgelope vyf dekades verdriedubbel. Dit hou verband met die massiewe opbou van infrastruktuur in baie dele van die wêreld en die hoë vlakke van verbruik – veral in bo-middelklas en hoë-inkomste lande. Volgens die verslag gaan materiaalontginning teen 2060 met 60-persent styg. Die uitvoerende direkteur van die program, Inger Andersen, sê die drievoudige planeetkrisis van klimaatsverandering, verlies aan naturlewe en besoedeling word aangedryf deur ‘n krisis van onvolhoubare verbruik en produksie.
Bly ingeskakel vir meer nuus ……