Nuus 11:00
BULLETIN 17 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die liggaam van ‘n negende vrou is in Ekurhuleni gevind
# Die Madlanga-kommissie sê daar is merkbare vordering ‘n jaar nadat sy verhore begin het
# En rugby: ‘n Gewese Engelse losskakel glo dit sal iets besonders verg om die Bokke in die Wêreldbeker te klop
# Die liggaam van ‘n negende vrou is in Ekurhuleni, Gauteng, gevind. Die liggaam is volgens berigte vroeër vanoggend half geklee en in ʼn laken toegedraai in Dawnpark aangetref. Dit volg nadat die liggame van agt ander vroue die afgelope twee maande in Kemptonpark, Olifantsfontein en Kwathema gevind is. Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, Fred Kekana, sê ʼn multidissiplinêre span speurders, forensiese deskundiges, misdaadintelligensie- en spesialis-eenhede ondersoek al die sterftes:
# Die Madlanga-kommissie se eerste verhoor was vandag ʼn jaar gelede. Die kommissie toon vordering met sy ondersoek na misdaad, politieke inmenging en korrupsie in Suid-Afrika se regstelsel. Dit het in 174 dae se verhore 110 mense se getuienis aangehoor, onder andere ʼn kabinetsminister, polisiebeamptes, lede van die Valke, die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie en privaat persone. Woordvoerder Jeremy Michaels sê hulle het drie Hooggeregshof-aansoeke hanteer, waarvan een van die hand gewys en twee teruggetrek is:
# Die vakverbond COSATU is bekommerd oor die nuwe visumbeperkings wat Amerika ingestel het teen mense wat hy beskuldig van betrokkenheid by rassediskriminasie en grond-oornames sonder vergoeding in Suid-Afrika. Dis gedoen weens beleid soos swart ekonomiese bemagtiging en grondonteiening sonder vergoeding. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê Amerika se bewerings teen Suid-Afrika is feitelik ongegrond. Hy sê die land is ʼn soewereine nasie wat volgens sy Grondwet regeer word:
Die Amerikaanse president, Donald Trump, dreig intussen om streng tariewe in te stel of handel met die Europese Unie te staak indien Kanada dié groepering se eerste assosiaatlid word. Kanada is tans in ʼn handelsoorlog met Amerika gewikkel, wat veroorsaak dat Ottawa nouer ekonomiese en veiligheidsbande met Europa nastreef. Trump, wat herhaaldelik voorgestel het dat Kanada Amerika se 51ste staat word, sê die EU-plan is lagwekkend en ʼn vyandige daad. Volgens ʼn onlangse meningspeiling is 80-persent van Kanadese ten gunste van sterker bande met die EU.
# Rugby: Die gewese Engelse losskakel Stuart Barnes sê dit sal ‘n span aangevoer deur ‘n talentvolle speler soos Ardie Savea van Nieu-Seeland of Antoine Dupont van Frankryk vereis om die Springbokke in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi te klop. Suid-Afrika gaan volgende jaar in Australië probeer om ‘n ongeëwenaarde derde agtereenvolgende titel te wen. Barnes skryf in die Britste Sunday Times die Bokke se organisasie is hul sterkste punt. Hy het Kurt-Lee Arendse, Damian Willemse en Cheslin Kolbe geprys vir hul ratsheid, en Damian de Allende vir sy bestendigheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-395-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-310-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….