Nuus 11:00
BULLETIN 3 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa lei die afvaardiging na die SA-China Elektrisiteit- en Energie-beleggingskonferensie
# Die Tesourie fokus op meetbare verbeterings in hervormings
# En rugby: Die All Blacks se plaasvervanger-kaptein sê die wedstryde teen die Springbokke is die grootste uitdaging
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, lei hierdie week ‘n hoëvlak-afvaardiging na die Suid-Afrika/China Elektrisiteit- en Energie-beleggingskonferensie in Beijing. Die doel is om die lewering van die Geïntegreerde Hulpbronplan van 2,2-duisend-miljard rand van strategie na instelling te versnel. Die kabinet het ook onlangs langverwagte elektrisiteitshervorming goedgekeur, insluitend ʼn nuwe prysbeleid. Eskom se hoof, Dan Marokane, wat Ramokgopa vergesel, het aan die SABC gesê hulle soek vennootskappe om die netwerk te moderniseer:
# Die Nasionale Tesourie sê hoewel die globale ekonomiese omgewing onseker bly, verbeter Suid-Afrika se mededingendheid danksy die volgehoue instelling van strukturele hervormings. Dit verminder ook beperkings op groei en lê die grondslag vir meer private beleggings. Die regering het verlede week Operasie Vulindlela se eerste kwartaalverslag vir 2026 vrygestel. Dit toon volgehoue vordering met hervormings om die prestasie van netwerkbedrywe te verbeter. Die Tesourie sê die fokus is nou op die versnelde lewering, die oplos van oorblywende knelpunte en die versekering dat hervormings sal lei tot meetbare verbeterings in infrastruktuur, dienslewering en ekonomiese prestasie.
# SANParke se brandbestuurspan in die Tafelberg Nasionale Park bestry steeds die veldbrand bo Kloofnek-hoek en die Tafelberg-kabelspoorstasie in Kaapstad, wat gisteraand uitgebreek het. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê toestande was laasnag gunstiger as gevolg van ʼn ligter wind. Die brand kan egter vandag moontlik weer opvlam wanneer die temperatuur styg, veral in rotsagtige gebiede wat grondspanne nie maklik kan bereik nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die sewe lidlande van die Organisasie van Petroleum-uitvoerlande en sy bondgenote, bekend as OPUL-plus, het ooreengekom om olieproduksie volgende maand te verhoog. Dit is weens die voortslepende ontwrigting in die Seestraat van Hormoes waardeur sowat 20-miljoen vate olie vervoer is voor die oorlog tussen Amerika en Iran uitgebreek het. Die olieproduserende groep sal die daaglikse hoeveelheid met nog 188-duisend vate verhoog – die sesde agtereenvolgende ooreenkoms om produksie te verhoog sedert die oorlog begin het. OPUL-plus sê dit weerspieël sy gesamentlike verbintenis om bestendigheid in die wêreldwye oliemark te ondersteun.
# Rugby: Nieu-Seeland se plaasvervanger-kaptein, Codie Taylor, sê hulle het geen illusies oor die uitdaging om die wêreldkampioen-Springbokke tuis aan te pak nie. Hy voer die span aan tot die gereelde kaptein, Ardie Savea, by die groep aansluit voor die eerste toets op Elllispark die 22ste. Die All Blacks se toer van agt wedstryde skop Vrydag amptelik af teen die Stormers in Kaapstad. Taylor sê hulle is gereed:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-562-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-61-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….