Nuus 11:00
BULLETIN 19 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die ANC kan nie die Mcebisi Jonas-visumskandaal verdedig nie
# Vyf mense word doodgeskiet in ‘n taverne in Olievenhoutbosch
# En fietsry: Tadej Pogačar vergroot sy voorsprong in die Tour de France
# Die DA sê sy lid Emma Powell se onthulling oor Mcebisi Jonas het ‘n ernstige geloofwaardigheidskwessie vir president Cyril Ramaphosa geskep. Die party sê Ramaphosa het Jonas aangestel om Suid-Afrika se diplomatieke, handels- en bilaterale belange met die VSA te bevorder nadat ambassadeur Ebrahim Rasool uitgeskop is. Willie Aucamp van die DA sê sedert Powell se onthulling is die weiering van Jonas se VSA-visum nie ontken nie, nie deur die Presidensie of die ANC nie:
Die ANC-jeugliga het intussen die optrede van Powell sterk veroordeel. Sy het na bewering ‘n doelbewuste waninligtingsveldtog teen die Suid-Afrikaanse regering gelei tydens haar onlangse besoek aan die Verenigde State. Die liga-woordvoerder, Zama Khanyase, sê Powell het na bewering leuens oor Suid-Afrika se grondonteieningsbeleid versprei en die amptelike diplomatieke inisiatiewe van die regering weerspreek. Sy sê hulle doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om beslissend en dringend op te tree:
# Die polisie in Gauteng is op soek na ongeveer tien verdagtes nadat vyf mense gisteraand doodgeskiet en nog drie gewond is by ‘n taverne in die Shoba-informele nedersetting in Olievehoutbosch, Centurion. Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê die verdagtes het na bewering die taverne binnegegaan en lukraak begin skiet, sonder om ‘n woord te sê. Die motief vir die skietery is in hierdie stadium onbekend:
# Die Siriese presidensie sê hy gaan ‘n nuwe mag ontplooi om die dodelike etniese gevegte tussen Bedoeïene- en Druze-vegters in die suide van die land te stop. Die kantoor van die Siriese tussentydse president Ahmed al-Sharaa vra vir selfbeheersing te midde van hernieude gevegte. Volgens die BBC is byna 600 mense dood sedert die geweld uitgebreek het. Regeringstroepe in die gebied, is deur inwoners beskuldig dat hulle Druze-burgers vermoor en summiere teregstellings uitvoer. Die Amerikaanse ambassadeur in Turkye het Vrydag gesê Israel en Sirië het op ‘n skietstilstand ooreengekom.
# En sportnuus:
# Fietsry: Tadej Pogačar het gister ‘n tydtoets teen die opdraande uit in die 13de skof by die Tour de France gewen om sy voorsprong in die wedren tot meer as vier minute te vergroot. Jonas Vingegard en Remco Evenepoel het aan hul plekke in die algehele top drie vasgeklou. Die 10,9 kilometer lange tydtoets het in versengende hitte van meer as 30 grade Celsius plaasgevind. Vandag se 14de skof is nog ‘n strawwe affêre met sowat 50 kilometer se klim wat waarskynlik in reën gejaag sal word.
# En rugby: Die eeu-oue mededinging tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland duur vanaand op juniorvlak voort wanneer die twee lande mekaar die stryd aansê in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbykampioenskap vir onder-20’s in Rovigo, Italië. Die Baba-Bokke was tot nou toe onkeerbaar, met weghol-oorwinnings in hulle drie groepwedstryde voordat hulle Argentinië in die halfeindrondte verslaan het. Die Junior All Blacks het ook nog nie verloor nie en het Frankryk in die voorlaaste wedstryd geklop. Suid-Afrika se afrigter Kevin Foote beskryf die wedstryd as ‘n spesiale oomblik teen ‘n spesiale span. Die wedstryd skop afskop is vanaand om 8.30.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….