Nuus 11:00
BULLETIN 11 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa gaan die BRICS-beraad gebruik om Suid-Afrika se ekonomiese voorkeure te bevorder
# Die tussen-ministeriële komitee verskerp sy voorbereiding vir die munisipale verkiesing in November
# En tennis: Die topgekeurde Sabalenka en Rybakina is in die vroue-eindstryd van die Amerikaanse Ope
# President Cyril Ramaphosa woon die naweek die 18de BRICS-beraad in Nieu-Delhi, Indië, by, met die tema “Bou vir veerkragtigheid, vernuwing, samewerking en sekerheid”. BRICS-leiers hanteer tans voortgesette geopolitieke spanning, insluitend in die Midde-Ooste en Oekraïne. Ramaphosa sê Suid-Afrika sal sy diplomatieke en ekonomiese voorkeure bevorder. Hy sal veral fokus op die uitbreiding van handel en belegging binne die BRICS-groep, industrialisasie en waardetoevoeging bevorder, en belegging in Afrika-infrastruktuur aan die gang kry:
# Die Valke, in samewerking met INTERPOL, hanteer vanmiddag die uitlewering van ses Nigeriese burgers wat na bewering lede is van die Black Axe georganiseerde misdaadnetwerk. Amerikaanse owerhede soek hulle vir internetbedrog en geldwassery wat met ‘n liefde-slenter verband hou. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê hulle het na bewering meer as 100 vroue in Amerika uit meer as 100-miljoen-rand bedrieg. Sy sê van die slagoffers is pensioentrekkers wat met gesofistikeerde aanlyn verhoudings geteiken is:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die tussen-ministeriële komitee vir die munisipale verkiesing verskerp voorbereidings vir die stemmery in November. Hy het die komitee ontmoet om vordering te bepaal, samewerking te versterk en die nodige voorbereidings te tref vir die werk wat voorlê. Altesaam 546 geregistreerde partye sal aan die verkiesing deelneem. Hlabisa sê die komitee bly vasbeslote om seker te maak alle planne is doeltreffend, omvattend en waterdig om ‘n suksesvolle verkiesing te verseker wat aan die grondwetlike en demokratiese verwagtinge van Suid-Afrikaners voldoen.
# Die Afrika-sentrums vir Sieketebeheer en -Voorkoming sê die voortgesette uitbreking van die Bundibugyo-stam van die Ebola-virus in die Demokratiese Republiek die Kongo versprei vinnig buite die middelpunt. Nuwe gevalle en sterftes het in die middelpunt, die Ituri-provinsie, afgeneem, maar skerp gestyg in die aangrensende Noord-Kivu en Haut-Uele. Ses-duisend-843 gevalle is aangemeld, insluitend drie-duisend-310 sterftes. Kliniese eksperimente is aan die gang om ‘n gelisensieerde entstof te vind. Die sentrums sê die grootste verantwoordelikheid is om oordrag te stop, gemeenskappe te beskerm en gesondheidswerkers in die frontlinie te ondersteun.
# Tennis: Die topgekeurdes speel die eerste keer in 13 jaar in die vroue-eindstryd van die Amerikaanse Ope. Elena Rybakina van Kazakstan, wat Maandag by Aryna Sabalenka van Belarus oorneem as wêreld-nommer-een, het die tuisgunsteling, Coco Gauff, uitgeskakel om die eerste keer die eindronde te haal. Sabalenka het nog ‘n Amerikaner, Jessica Pegula, op Flushing Meadows in New York verslaan. Sabalenka, wat mik na haar derde agtereenvolgende titel, verwag ‘n taai stryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-314-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-352-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….