Nuus 11:00
BULLETIN 2 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa doen ’n beroep op alle stemgeregtigde kiesers om te registreer
# Padwedlope: Die Comrades Marathon-vereniging gaan volgende jaar se marathon op sy eie reël
# En laastens: Die Sopranos-ster Vincent Pastore sterf op 80-jarige ouderdom
# Die ANC-president, Cyril Ramaphosa, moedig stemgeregtigde Suid-Afrikaners aan om vandag as liesers te registreer vir die plaaslikeregeringsverkiesing in November. Hy het tydens die ANC se kieserregistrasieveldtog in Madibeng, buite Brits in Noordwes, gesê alle Suid-Afrikaners moet betrokke raak by landsake. Hy sê baie jongmense ervaar probleme met dienslewering en gebrekkige werksgeleenthede:
Intussen doen die IVP ook ‘n beroep op elke stemgeregtigde Suid-Afrikaner wat nog nie as kieser geregistreer is nie, om gebruik te maak van die laaste dag van Kiesersregistrasienaweek Hy waarsku dis die laaste geleentheid om te registreer voordat die kieserslys sluit. Die IVP-woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, sê sodra die verkiesingsdatum amptelik aangekondig en in die Staatskoerant gepubliseer word, sal kieserregistrasie sluit. Hy sê diegene wat teen daardie tyd nie geregistreer het nie, sal nie geregtig wees om in die plaaslikeregeringsverkiesing te stem nie.
# Die Parlementêre Gekose Komitee oor Onderwys, Wetenskappe en die Kreatiewe Nywerhede sê die kwessie rondom bestuursuitdagings en verbeterde prestasie by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente vereis ‘n ernstige debat. Dit volg na bewerings dat die onlangs aangestelde NSFAS-administrateur Hlengani Mathebula ‘n luukse leefstyl op NSFAS se rekening handhaaf terwyl probleme met studente se behuisingstoelaes in die media aangemeld is. Die komitee se voorsitter, Makhi Feni, sê die bewerings is uiters kommerwekkend:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, het ‘n nuwe ooreenkoms tussen vier taxiverenigings in die Suidelike Voorstede verwelkom en noem dit dit ‘n groot oorwinning vir pendelaars en ‘n belangrike stap in die rigting van die beëindiging van jare se geweld. Die LUR sê na ‘n bemiddelingsproses gelei deur die departement en die Stad Kaapstad, het die Vrygrond-, Retreat-, Westlake- en Steenberg-taxiverenigings ooreengekom om vreedsaam saam te werk en roetes te deel:
# Padwedlope: Die Comrades Marathon-vereniging sal amptelik voortgaan met die 2027-wedloop sonder Atletiek Suid-Afrika of KwaZulu-Natal Atletiek. Na ‘n paar maande van onderonsies en vergaderings het die lede van die marathonvereniging gisteroggend tydens ‘n spesiale algemene vergadering gestem om voort te gaan sonder affiliasie met KZNA en ASA deur assosiasie. Dit beteken dat die hele aanbieding van die wedloop afhanklik sal wees van die vereniging en sy raad, insluitend regstreekse onderhandelinge met munisipaliteite om toegang tot paaie te verkry op die voorgestelde datum van 13 Junie volgende jaar. Die wedloop vier sy eeufees in 2027.
# En ten slotte: Die Amerikaanse akteur Vincent Pastore, wat Salvatore “Big Pussy” Bonpensiero in die trefferreeks The Sopranos vertolk het, is op 80-jarige ouderdom oorlede. Volgens CBS News is Pastore in sy huis in die Bronx in New York gevind en daar is geen aanduiding van vuilspel nie. Pastore het Tony Soprano se beste vriend gespeel wat uiteindelik ‘n informant vir die FBI geword het. Sy karakter se dood in reeks twee was een van die program se mees onvergeetlike storielyne. Pastore is in 1946 in die Bronx gebore. Hy het tydens die Viëtnam-oorlog by die Amerikaanse vloot aangesluit voordat hy ‘n loopbaan as akteur begin het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….