Nuus 11:00
BULLETIN 6 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Instituut vir Rasseverhoudinge sê nog lenings aan Transnet sal nie die infrastruktuurkrisis oplos nie
# Vyf mense, insluitend twee kinders, sterf in ‘n taxi-ongeluk in die Oos-Kaap
# En rugby: Westelike Provinsie bring 14 veranderings aan sy opdrafspan aan vir hul Curriebekerkragmeting met die Griekwas
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê dis teenproduktief om nog geld aan Transnet te leen terwyl dit steeds in ‘n fiskale gat is weens wanbestuur in die staatskapingstydperk. Die New Development Bank het ʼn leningsooreenkoms van vyf-miljard-rand aan Transnet goedgekeur om die spoorvragsektor te moderniseer en te verbeter. Hermann Pretorius van die instituut sê die lening plaas ook die regering in ʼn moeilike posisie:
# Die uitvoerende hoof van Media24, Ishmet Davidson, sal Maandag uittree, met die finansiële bestuurshoof, Raj Lalbahadur, wat sal oorneem as tussentydse hoofbestuurder. Davidson, wat die maatskappy sedert 2018 lei, sal as raadgewer aanbly. Hy het Media24 tydens sy termyn deur finansiële uitdagings en die Covid-19-pandemie gelei. Hy was ook aan die voorpunt van die maatskappy se digitale hervorming. Lalbahadur het in 2007 by Media24 aangesluit, en lei nou die maatskappy deur sy komende herstrukturerings- en bedryfsveranderings.
# Die Oos-Kaapse Departement Vervoer sê vyf mense is dood en 12 beseer toe ʼn minibustaxi op ʼn grondpad naby Libode omgeslaan het. Onder die slagoffers is ʼn egpaar en hulle twee kinders, waarvan die jongste twee-maande oud was. Die departement se woordvoerder, Unathi Binqose, sê ʼn vrou in haar 70’s is met haar aankoms by die Sint Barnabas-hospitaal aan haar beserings dood:
# President Joe Biden van Amerika se seun, Hunter, het skuldig gepleit op al nege aanklagte van belastingontduiking. Die 54-jarige Biden sou teregstaan op aanklagte dat hy van 2016 tot 2019 nie belasting betaal het nie. Hy kan tot 17-jaar-tronkstraf of ʼn boete van 17-miljoen-rand gevonnis word. Biden word in Desember gevonnis. Sy regsverteenwoordiger, Abbe Lowell, sê sy kliënt wou ter wille van sy privaat belange ʼn hofsaak vermy:
# Rugby: Die slot JD Schickerling speel vandag sy 50ste wedstryd vir Westelike Provinsie in die Curriebekerkragmeting met Griekwas in Kimberley. Daar is 14 veranderings aan verlede week se opdrafspan teen die Pumas, met net die heelagter Luke Burger wat sy plek behou. Die vleuels Angelo Davids en Leolin Zas sluit hulle by Burger aan. Dan du Plessis is die kaptein en Paul de Wet en Jurie Matthee die skakelpaar. Die Springbokke Steven Kitshoff, André-Hugo Venter and Ben-Jason Dixon is onder die plaasvervangers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-364-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-519-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….