Nuus 10:00
BULLETIN 30 Desember 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika bevestig sy toewyding aan Somalië se soewereiniteit en bestendigheid in die streek
# Die Australiese eerste minister verdedig sy regering se optrede oor anti-Semitisme
# En sokker, Bafana Bafana se afrigter is bekommerd oor die span se verdediging voor die AFCON-uitkloprondes
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê Suid-Afrika is bekommerd oor Israel se onlangse aankondiging dat hy Somaliland as ‘n onafhanklike staat erken. Israel is die eerste land wat Somaliland as ʼn onafhanklike republiek erken, meer as 30 jaar nadat die streek onafhanklikheid van Somalië verklaar het. Die departement sê die erkenning is ʼn skending van Somalië se soewereiniteit en streeksintegriteit, en ʼn regstreekse bedreiging vir vrede in die Horing van Afrika. Hy sê Israel se optrede veroorsaak verdeeldheid en kan tot onbestendigheid lei.
# Die Openbare Beskermer se kantoor het bevestig sy het die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, se klag teen sy voorganger, Dion George, ontvang. Die minister het Kholeka Gcaleka gevra om George en twee ander te ondersoek oor bewerings dat hulle staatshulpbronne misbruik en ʼn vals fluitjieblaserverslag opgestel het voor hy uit sy amp verwyder is. George ontken die bewerings ten sterkste. Gcaleka se kantoor sê die saak word volgens die Openbare Beskermer se ondersoekprosedures oorweeg.
# Die Forum for South Africa doen ʼn beroep op die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur om onmiddellik alle boupersele te sluit wat nie volgens wettige en veiligheidsvereistes bedryf word nie. Dit volg nadat ʼn gebou in Doornkop, Soweto, ineengestort en drie lewens geëis het. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê die voorval is een van ʼn ontstellende patroon van bou-verwante rampe in die land. Dit sluit die onlangse Redcliffe Temple-voorval in Durban in waar vyf mense dood is:
# Die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, het sy regering se optrede in verband met anti-Semitisme ná die Bondi Beach-terreuraanval verdedig. Hy is gestriem oor sy hantering van die aanval waarin 15 mense dood is. Die opposisie beskuldig hom dat hy die slagoffers se families beledig deur nie ʼn koninklike kommissie aan te stel nie, maar volhou dat die Richardson-oorsig voldoende is. Albanese sê sy regering het opgetree om die anti-Semitisme-probleem te hanteer:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê die span moet sy verdediging verbeter voor die uitkloprondes van die Afrikabekertoernooi in Marokko. Suid-Afrika het Zimbabwe met 3-2 verslaan en is deur na die laaste 16 vir die derde agtereenvolgende jaar en in die tweede plek in Groep B na die sewemalige kampioen Egipte. Egipte het saam met Marokko en Mali ook na die uitkloprondes deurgedring. Broos sê dis kommerwekkend dat die span nie ‘n skoon rekord kon handhaaf nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-257-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-370-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….