Nuus 10:00
BULLETIN 29 Desember 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Forum of South Afrika vra samewerking om misdaad tydens feestyd se piektye te bekamp
# Die minister van Openbare Werke gee opdrag dat die gebou-ramp in Soweto ondersoek word
# En, die geliefde bobbejaan Cindy is dood op 31
# Die Forum of South Africa doen ‘n beroep op gemeenskapspolisiëringsforums en privaat sekerheidsmaatskappye om saam te werk en misdaad tydens die feestyd te bekamp. Die feestyd word gewoonlik gekenmerk deur ʼn skerp toename in geweldsmisdaad soos messtekery, skietvoorvalle en moorde. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê baie van hierdie geweldsmisdade ontstaan in of naby tavernes en nagklubs:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die Raad vir die Bou-omgewing opdrag gegee om die strukturele ineenstorting in Doornkop, Soweto, onmiddellik te ondersoek. Drie mense, twee volwasse vroue en ʼn eenjarige kind, is dood toe ʼn dubbelverdiepinggebou gister ineengestort het. Drie ander is uit die puin gered. Minister Macpherson sê die Raad vir die Bou-omgewing sal die oorsaak van die strukturele foute vasstel, die verantwoordelike partye identifiseer en voorkomende stappe aanbeveel om rampe in die boubedryf te vermy.
# Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, sê daar is eenstemmigheid bereik oor 90-persent van die bepalings van die 20-punt-vredesplan. Hy het Sondag die Amerikaanse president Donald Trump by Mar-a-Lago in Florida ontmoet. Die belangrikste knelpunte bly die lot van die Zaporizhzhia-kernkragsentrale en die kwessie van gebiedstoegewings. Zelensky het sy standpunt herhaal dat die mense van Oekraïne uiteindelik die vraag sal moet beantwoord oor die lot van die Donbas-streek, waarvan Rusland tans ongeveer 75-persent beheer:
# Sokker: Algerië is deur na die laaste 16 van die Afrikabekertoernooi, nadat hulle Burkina Faso met 1-0 in Marokko verslaan het. Kaptein Riyad Mahrez het die enigste doel van die wedstryd aangeteken, met Algerië wat nou stewig bo-aan Groep E is. Die verdedigende kampioene Ivoorkus en Kameroen het een-elk gelykop gespeel, terwyl Soedan ‘n 1-0 oorwinning oor Ekwatoriaal-Guinee behaal het. Intussen kan Gaboen vroeg uitgeskakel word nadat hulle met 3-2 teen Mosambiek verloor het, wat ‘n einde bring aan die Suider-Afrikaanse span se 40 jaar lange wag vir ‘n oorwinning by AFCON.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-878-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-516-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte, die geliefde bobbejaan Cindy is Sondag op 31-jarige ouderdom dood. Sy het ernstige hartversaking gehad, wat gelei het tot die herhaalde opbou van vog in die lugsakkies van haar longe. Cindy het op die plaas Simmenau net buite Windhoek in Namibië saam met die Lambrechts-gesin gewoon. Sy was ‘n beroemde sosialemedia-ster met meer as 1,2-miljoen volgelinge op Instagram. Daar is ook ‘n kort rolprent en ‘n boek oor haar lewe op die plaas uitgereik. Haar mensbroer, Ruben Lambrechts, sê Cindy was elke dag van haar lewe diep geliefd en versorg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….