Nuus 10:00
BULLETIN 24 Desember 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika se vordering in 2025 moet gevier word
# België is die jongste land wat aansluit by Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel
# En, Australiërs word gevra om die Kersfeesboodskap van hoop en veerkragtigheid aan te gryp
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê 2025 het gewys die grootste krag lê nie in die regering nie, maar in die veerkragtigheid en eenheid van Suid-Afrikaners. In sy Kersboodskap beklemtoon hy belangrike mylpale, soos die derde kwartaal se 0,5-persent groei in bruto binnelandse produk, die bestuur van die energiekrisis en aanbieding van die G20-leiersberaad. Mashatile sê in die jaar wat voorlê, moet landsburgers die idee van ubuntu omarm:
# België het amptelik aangesluit by Suid-Afrika se saak in die Internasionale Strafhof waarin hy beweer Israel pleeg volksmoord in die Gaza-strook. Suid-Afrika het die saak in Desember 2023 aanhangig gemaak en voer aan Israel se oorlog in Gaza skend die Verenigde Nasies se 1948-konvensie oor die Voorkoming en Straf vir Volksmoord. Ander lande, insluitend Brasilië, Colombia, Ierland, Mexiko, Spanje en Turkye het ook al by die saak aangesluit. België is een van die lande wat in September ‘n onafhanklike Palestynse staat erken het.
# Die Appèlhof het die oudpresident van Zambië, wyle Edgar Lungu, se familie verlof toegestaan om teen ʼn Gautengse Hooggeregshof-beslissing oor sy begrafnis te appelleer. Die 68-jarige Lungu is in Junie in ʼn Pretoriase hospitaal dood. Die Lungu-familie het die Appèlhof genader nadat ʼn hof beslis het Zambië mag die oudpresident repatrieer vir ʼn staatsbegrafnis en dat hy by Embassy Park begrawe word. Die familie het die uitspraak verwelkom en sê hulle bly verbind tot ʼn regverdige uitkoms.
# Die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, sê Kersfees sal vanjaar anders voel vir landsburgers na die terreuraanval op Joodse Australiërs tydens ‘n Hannukah-viering op Bondi Beach. Die anti-semitiese slagting verlede Sondag het die lewens van 15 mense geëis. Albanese het die land se inwoners in sy Kersboodskap gevra om saam te staan en ‘n boodskap van hoop en veerkragtigheid aan te gryp:
# Gholf: Die vyfmalige majorkampioen, Brooks Koepka, het besluit om met onmiddellike ingang uit LIV-gholf te tree, al is daar nog ʼn jaar van sy huidige ooreenkoms oor. Die 35-jarige Amerikaner, wat sedert 2022 een van die Saoedi-ondersteunde reeks se bekendste name was, sê hy is passievol oor die spel, maar hy voel dis nou belangrik om meer tyd saam met sy gesin deur te bring. Terwyl hy kaptein van die LIV-gholfspan Smash was, het Koepka vyf trofeë, insluitend individuele en spantitels, gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-898-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-487-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….