Nuus 10:00
BULLETIN 29 Mei 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar was betogings en vertragings met die opening van stemlokale
# Die VF Plus sê die Openbare Beskermer gaan Paul Mashatile se seuns ondersoek in verband met verdagte tenders
# En tennis: Sabalenka en Rybakina is deur na die tweede ronde van die Franse Ope
# Die stemmery het vanoggend om seweuur landwyd redelik glad begin, maar daar was ook probleme. In Keiskammahoek in die Oos-Kaap kon die stemlokaal weens betogings oor grondkwessies nie betyds open nie. Park Town Girls High School in Gauteng se stemlokaal het ook laat geopen. Hierdie verkiesing word beskou as ‘n hewig betwiste een en ook geskiedkundig omdat dit 30 jaar van demokrasie herdenk.
Die Amathole-burgemeester, Onke Mgunculu, sê intussen paaie wat deur betogers in Keiskammahoek in die Oos-Kaap gesluit is, is weer oop en inwoners kan hul kruisies gaan trek. Dit volg nadat inwoners oor grondeise betoog en geweier het om te stem. Mgunculu sê wetstoepassingsagentskappe is ontplooi om die betoging dop te hou:
# Die VF Plus in Gauteng sê die Openbare Beskermer het ingestem om adjunkpresident Paul Mashatile se twee seuns te ondersoek nadat die party ‘n klag teen hulle gelê het. Dit volg op bewerings dat Thabiso Mashatile en Tinyiko Mvelase drie kontrakte in slegs drie maande ontvang het. Anton Alberts van die VF Plus sê Gauteng se Departement van Infrastruktuurontwikkeling het die kontrakte onder agterdogwekkende omstandighede toegeken:
# Papoea-Nieu-Guinee se eerste minister, James Marape, blameer buitengewone reënval en veranderde weerpatrone vir die talle rampe wat dié eilandnasie in die Stille Oseaan al vanjaar getref het. Dit volg nadat ʼn grondstorting in die Enga -provinsie Vrydag meer as twee-duisend mense begrawe het. Die ramp het tot 70-duisend mense wat in die gebied woon, geraak. Marape sê natuurrampe het die land vóór die Enga-ramp vanjaar reeds meer as twee-miljard-rand gekos.
# Tennis: Die Grand Slam-kampioene Aryna Sabalenka en Elena Rybakina het na die tweede ronde van die Franse Ope deurgedring. Sabalenka van Belarus het die Russiese tiener Erika Andreeva, 6-1, 6-2 geklop, terwyl die Russies-gebore Rybakina van Kazakstan ná ‘n stadige begin die Belg Greet Minnen 6-2, 6-3 uitgeskakel. Die gewese Wimbledon-kampioen het haar eerste wedstryd in drie weke gespeel. Alize Cornet se loopbaan het egter tot ‘n einde gekom toe sy in haar laaste toernooi met 6-2, 6-1 teen die sewende gekeurde Zheng Qinwen die knie moes buig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-529-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-351-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….