Nuus 09:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 10 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê LGBT-Suid-Afrikaners wat in minder gegoede gebiede woon, is kwesbaar vir diskriminasie
# Die Presidensiële Klimaatskommissie verwerp bewerings dat uitlaatgas-teikens nie teen 2030 verminder sal wees nie
# En, die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes vra duidelikheid oor minister Naledi Pandor se gesprek met die Hamas-leier
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika se progressiewe grondwetlike raamwerk bevoordeel steeds lede van die lesbiese, gay, biseksuele en transgender gemeenskap, wat middelklas, stedelike lewens lei. Dit is een van die bevindings in die jongste verslag van die instituut, getiteld, An In-Depth Look into the Quality of Life of LGBT South Africans. Gerbrandt van Heerden van die instituut, sê LGBT-Suid-Afrikaners wat in minder gegoede, landelike gebiede woon, met min toegang tot die privaatsektor, is veral kwesbaar vir diskriminasie:
Speel klankgreep: ENG GerbrandtonLGBT
# Die Suid-Afrikaanse Presidensiële Klimaatskommissie verwerp bewerings dat die teiken vir uitlaatgasse nie teen 2030 bereik sal word nie. ’n Verslag deur Reuters lui dat daar kommer bestaan omdat die lewensduur van sommige steenkoolkragstasies verleng mag word as ʼn oplossing vir kragtekorte, wat op sy beurt die teiken vir uitlaatgasse beïnvloed. Die kommissie se uitvoerende direkteur, Crispian Olver, sê Suid-Afrika is daartoe verbind om uitlaatgasse teen 2030 te verminder tot ‘n spektrum gelykstaande aan 350 tot 420 megaton koolstofdioksied. Suid-Afrika is die wêreld se 14de grootste vrysteller van klimaatverwarmende gasse.
# Die Nasionale Tesourie het die eThekwini Munisipaliteit se versoek vir die verlenging van 1,6-miljard-rand se toelaes goedgekeur. Die verlenging is vir die munisipale ramp-hersteltoelaag, die projek-voorbereidingsteuntoelaag en die buurtontwikkeling-vennootskaptoekenning vir die indiensnemingsprogram. Die eThekwini-burgemeester, Mxolisi Kaunda, sê hulle het aansoek gedoen vir die verlenging nadat die tesourie die fondse eers in Maart, drie maande voor die einde van die 2022/2023-boekjaar uitgestuur het, terwyl die toekenningsraamwerk bepaal dat die fondse binne 12 maande bestee kan word :
Speel klankgreep: ENG MxolisionGranted
# Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes beskuldig die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking van onbeperkte vyandigheid te midde van toenemende anti-Semitisme wat Joodse burgers kwesbaar laat voel. Die organisasie sê die regering boelie die Israeliese ambassadeur, Eliav Belotserkovsky, omdat hy sy pro-Jihadistiese houding kritiseer. Hy betwis ook minister Naledi Pandor se besluit om stil te bly oor haar gesprek met Hamas se leier, Ismael Haniyeh, en het ‘n aansoek ingevolge die Wet op Openbare Toegang tot Inligting ingedien. Hulle kritiseer ook die regering wat hom by Hamas skaar, wat ‘n afwyking van sy steun vir die tweestaat-oplossing is.
# Sokker: Die Colombiaanse sokkerfederasie het bevestig die pa van Liverpool se voorspeler, Luis Diaz, is deur ontvoerders vrygelaat en is veilig. Luís Manuel Diaz is op die 28ste van verlede maand deur die linkse guerrillas in die gesin se tuisdorp Barrancas ontvoer. Diaz se ma is ook in die voorval ontvoer, maar sy is binne ure gered nadat die polisie padblokkades opgestel het. Die federasie sê die pa is deur lede van die Nasionale Bevrydingsleër aan amptenare van die Verenigde Nasies en die Katolieke Kerk oorhandig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-751-dollar-50-sent. Die prys van goud is een-duisend-957-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….