Nuus 09:00
BULLETIN 24 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA hef tariewe op goedere uit 60 lande weens kommer oor dwangarbeid
# Raymond Parsons sê die onveranderde rentekoers is goeie nuus vir sukkelende verbruikers
# En Statebondspele: Wayne Rittmuller sorg vir Suid-Afrika se eerste oorwinning
# President Donald Trump van Amerika se administrasie stel tariewe van tussen 10- en 12,5-persent in teen 60 handelsvennote, insluitend Suid-Afrika. Die rede is die lande se versuim om maatreëls doeltreffend toe te pas om die invoer van goedere wat deur dwangarbeid vervaardig is, te keer. Die tariewe raak belangrike ekonomiese vennote soos die Verenigde Koninkryk, China, die Europese Unie, Kanada, Japan en Indië. Suid-Afrika is onder die lande met tariewe van 12,5-persent. Amerika se handelsverteenwoordiger, Jamieson Greer, sê dwangarbeid raak meer as 27,6-miljoen mense wêreldwyd:
# Die IVP sê al het die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee die terugkoopkoers onveranderd gehou, sal baie landburgers steeds finansieel sukkel weens hoë lewenskoste, stadige ekonomiese groei en voortslepende werkloosheid. Die terugkoopkoers bly sewe-persent en die prima uitleenkoers bly 10,5-persent. ‘n IVP-woordvoerder, Nhlanhla Hadebe, sê die besluit bied wel kontinuïteit in monetêre beleid, maar dit alleen kan nie die land se ekonomiese probleme oplos nie:
# Hierby voeg die ekonoom van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om rentekoerse onveranderd te hou, sal verligting bring vir ondernemings en verbruikers wat aan stygende lewenskoste onderwerp word. Parsons sê die besluit weerspieël kommer oor swak ekonomiese groei en wêreldwye onsekerheid, insluitend die konflik in die Midde-Ooste. Hy verwag Suid-Afrika se ekonomie sal vanjaar met slegs sowat 1,2-persent tot 1,3-persent groei, en sê vinniger binnelandse hervormings is nodig om ekonomiese groei te bevorder.
# Die dreigement van ‘n taxi-staking volgende week deur die hele Gauteng is afgeweer nadat die LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi Raad en die Gauteng Nasionale Taxi Alliansie ontmoet het. Dit volg na ‘n week van spanning tussen die departement van taxi-verenigings oor beweerde administratiewe vertragings en beskuldigings dat die LUR nie met die demokraties verkose taxi-leiers praat nie. Graham Fritz van Santaco sê hulle het ooreengekom op verdere ontmoetings om volhoubare en aanvaarbare oplossings te vind:
# Statebondspele: Wayne Rittmuller het Span Suid-Afrika se Statebondspele op ʼn wennoot afgeskop toe hy sy openingswedstryd in die mans se rolbal-enkelspel in Glasgow gewen het. Die 44-jarige Rittmuller het Harriman Yuen van Singapoer met 9-0, 7-4 verslaan in hul Afdeling B-kragmeting. Die vroue-paar, Thabelo Muvhango en Jacqui Janse van Rensburg, het hulle Afdeling B-wedstryd teen hul teenstanders van Tonga, Paris Baker en Milika Nathan, verloor. Koning Charles het die Spele, waar meer as drie-duisend atlete elf dae lank in tien sportsoorte meeding, gister amptelik geopen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-299-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-28-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….