Nuus 09:00
BULLETIN 1 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel Leonard Lekgetho aan as die nuwe hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid
# Die ANC verwelkom Eskom se tweede agtereenvolgende winsgewende jaar
# En krieket: Marnus Labuschagne word weggelaat uit Australië se eendagspan
# President Cyril Ramaphosa het Leonard Lekgetho met onmiddellike ingang aangestel as nuwe hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid. Hy volg advokaat Andy Mothibi op wat die pos in Februarie verlaat het om die nasionale direkteur van Openbare Vervolging te word. Lekgetho het 19 jaar ervaring by die ondersoekeenheid waar hy uiteenlopende poste beklee het, onder meer hoof-forensiese ondersoekbeampte en assistent-projekbestuurder. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Lekgetho se aanstelling sal bestendigheid by die eenheid bring:
# Die ANC se parlementêre koukus het Eskom se jongste finansiële resultate as ‘n belangrike mylpaal in die ommekeer van Suid-Afrika se elektrisiteitsektor beskryf. Die kragverskaffer het in die jaar tot einde Maart 2026, ʼn wins van 30,3-miljard-rand ná belasting getoon, wat ʼn skerp styging is van die 14-miljard-rand die vorige jaar. Eskom sê die resultaat is hoofsaaklik te danke aan beter kragstasie-prestasie, koste-dissipline en minder nood-kragopwekking met diesel. Die ANC sê dit wys dat bepalende regeringsingryping, goeie leierskap, bedryfsdissipline en volgehoue belegging resultate lewer.
# Die vakverbond Saftu sê hy hou nog heeltyd vol dat die korrupsie by Tembisa-hospitaal nooit ʼn geïsoleerde voorval van administratiewe wangedrag was nie, maar ʼn sistematiese plundering van staatsfondse. Dit volg na die inhegtenisneming van die sakeman, Stefan Joel Govindraju, wat verbind word met tenderbedrog van meer as twee-miljard-rand by die hospitaal. Hy het gister in die Palm Ridge-landdroshof verskyn waar hy op borgtog van 200-duisend-rand vrygelaat is. Saftu-woordvoerder Asive Dyani sê nog mense moet aanspreeklik gehou word:
# Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky sê hy het ‘n omvattende en konstruktiewe telefoongesprek gevoer met die Amerikaanse president Donald Trump se gesante Steve Witkoff en Jared Kushner. Hulle het gekyk na verdere koördinering tussen die onderhandelingspanne en die ontwikkeling van vredesoplossings. Zelensky sê hy het Witkoff en Kushner ingelig oor die omstandighede op die oorlogsfront, waar Rusland se geringe winste groot lewensverlies veroorsaak, asook besonderhede oor die jongste lugaanvalle. Hy het beklemtoon hoe belangrik dit is om voortgesette dialoog tussen Amerikaanse en Oekraïnse onderhandelingspanne te handhaaf.
# Krieket: Australië het sy eendaggroep aangewys vir die reeks teen Zimbabwe en Suid-Afrika, met Marnus Labuschagne die belangrikste weglating. Hy het in Junie gesukkel tydens die toere in Pakistan en Bangladesj. Mitch Marsh, Travis Head en Josh Hazlewood keer terug na die span, terwyl die jongelinge Joel Davies en Ollie Peake hul plekke in die groep behou. Davies is in lyn om sy eendagdebuut te maak. Australië speel van 15 September af in drie wedstryde teen Zimbabwe en van 24 September af nog drie teen die Proteas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-819-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-430-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….