Nuus 09:00
BULLETIN 15 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mediese Vereniging versoek President Ramaphosa dringend om die gesondheidsorgstelsel reg te ruk vóórdat hy die Wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering onderteken
# Die GOOD Party sê die staat se voorstel om gesubsidieerde huise te staak, ignoreer die Grondwet
# En, Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, is vasbeslote om voort te gaan met die aanslag op Rafah
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging sê die land is nog nie gereed om die Nasionale Gesondheidsversekering in te stel nie en regsgedinge sal volg sodra President Cyril Ramaphosa die wetsontwerp onderteken het. Die voorsitter van SAMA, Dr Mvuyisi Mzukwa, sê rioolstelsels in hospitale wat oorloop, die gebrek aan mediese spesialiste en stukkende toerusting sal die inwerkingstelling van die NGV kniehalter. Hy sê SAMA steun omvattende gesondheidsorg ten volle, maar hy glo ‘n stelsel van ‘enkel-aankoper, enkel-betaler’ soos in die wetsontwerp uiteengesit, is nie haalbaar nie.
# ‘n Senior ekonoom by FNB, Siphamandla Mkhwanazi, sê inkopies het verlede jaar met een-persent gedaal vergeleke met 2022 wat dui op ʼn laer aanvraag deur verbruikers. Dit sal waarskynlik in die komende termyn voortduur weens hoë inflasie en rentekoerse, en swak verbruikersvertroue. Volgens Mkhwanazi behoort die heersende streng uitleenstandaarde en hoë koste van skuld die toename in krediet redelik in toom te hou. Dit geld vir die bank- en ander sektore en verskaf dus minder ondersteuning aan verbruik:
# Die GOOD Party sê die Witskrif oor Menslike Nedersettings wat aan die parlementêre portefeuljekomitee vir Menslike Nedersettings voorgelê is, ondermyn Suid-Afrikaners se reg op voldoende behuising. In die lig van die huidige fiskale beperkings wil die Witskrif die huidige behuisingsprogram herstruktureer maar nie verbeter nie – wat dringend nodig is om die staat se grondwetlike aanspreeklikheid om voldoende behuising te lewer, te verminder. Die GOOD Party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê toegang tot behoorlike behuising gaan oor meer as skuiling:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, hou vol sy soldate sal opruk na Rafah in Gaza ten spyte van oproepe om die besluit te heroorweeg. Die Franse president Emmanuel Macron is die jongste leier wat Netanyahu waarsku oor die lewensverlies in so ʼn operasie. Spanje en die Republiek van Ierland het die Europese Unie gevra om dringend vas te stel of Israel sy menseregte-verpligtinge in Gaza nakom. Meer as 28-duisend mense, hoofsaaklik vroue en kinders, is in Gaza dood sedert die Hamas-aanval op Israel op 7 Oktober verlede jaar.
# Motorsport: Red Bull se baas, Christian Horner, woon vandag die span se 2024-motorbekendstelling by. Hy staar bewerings deur ʼn vroulike kollega in die gesig, maar ontken kategories dat hy onbehoorlik en manipulerend opgetree het. Hy is Vrydag as deel van ʼn Red Bull-ondersoek wat weke kan duur, agt ure lank deur ʼn prokureur ondervra. Die 50-jarige Horner is sedert 2005 Red Bull se spanhoof. Hy het in sy termyn by Red Bull beleef hoe sewe renjaers as wêreldkampioene gekroon en ses vervaardigerstitels verower is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-253-dollar-67-sent. Die prys van goud is een-duisend-992-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….