Nuus 09:00
BULLETIN 14 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut van Direkteure in Suid-Afrika sê ondoeltreffende bestuur is ‘n groot probleem in munisipaliteite
# ActionSA dien ‘n mosie van wantroue in teen die Ekurhuleni-burgemeester
# En sokker, Bafana Bafana word met ‘n helde-ontvangs in Suid-Afrika terug verwelkom
# Die Instituut van Direkteure in Suid-Afrika sê ondoeltreffende bestuur is die rede waarom munisipaliteite misluk. Die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, se Material Irregularities in Local Government-verslag het onthul munisipaliteite se verliese beloop byna 52-miljard. Dit word toegeskryf aan onreëlmatighede soos nienakoming van finansiële regulasies, en vermeende bedrog. Die instituut se uitvoerende hoof, Parmi Natesan, sê aanstellings op grond van politieke of ander onbehoorlike gronde is die basiese oorsaak van die probleme wat die staat op alle vlakke teister.
# MMH en Partners Africa het ‘n sespunt-strategie onthul om belegging in Suid-Afrika se farmaseutiese en gesondheidsorg-vervaardigingsektor ‘n hupstoot te gee. Michael Mynhardt van Avacare Health Global skets sleuteldoelwitte, insluitend die bereiking van UNAIDS se teikens teen 2025, die ondersteuning van vyf aktiewe farmaseutiese bestanddeel-vervaardigers teen 2030, en die vermindering van die afhanklikheid van buitelandse invoer. Mynhardt sê dit het ten doel om ‘n volhoubare raamwerk vir farmaseutiese vervaardiging daar te stel, wat Afrika se toegang tot lewensreddende medisyne sal verseker:
# ActionSA in Ekurhuleni het ‘n mosie van wantroue ingedien teen die burgemeester, Sivuyile Ngodwana, en sy span burgemeesters-komiteelede. Die party-leier in die metro se koukus, Siyanda Makhubo, sê sedert Ngodwana se verkiesing en met die hulp van die ANC, EFF en sewe minderheidspartye, het dienslewering en die stad se finansiële toestand versleg. Hy sê die mosie van wantroue is ʼn poging om Ekurhuleni van ineenstorting te red:
# Sokker: Honderde Bafana Bafana-ondersteuners het vanoggend die bronsmedaljewenners op die OR Tambo Internasionale Lughawe terug verwelkom. Suid-Afrika het die Demokratiese Republiek van Kongo getroef om derde te eindig in die Afrikabekertoernooi wat deur die gasheer, Ivoorkus, verower is. Die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, en die EFF-leier, Julius Malema, was onder die hooggeplaastes wat die groep op die lughawe verwelkom het. Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê hulle is trots op hul prestasie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-10-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 49-duisend-486-dollar-81-sent. Die prys van goud is een-duisend-992-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-61-sent per vat.
# En laastens, die R&B-sanger en liedjieskrywer, Usher, se rustydvertoning Sondag by die Super Bowl-wedstryd op die Allegiant-stadion in Las Vegas, het 129,3-miljoen kykers gelok, wat die meeste ooit is. Hy het ʼn keurspel treffers gesing wat liedjies soos Caught Up, Burn en Love In This Club gesing met spesiale verskynings deur Alicia Keys, will.i.am, Lil Jon, Ludacris en H.E.R. Rihanna se Super Bowl-rustydoptrede verlede jaar en Katy Perry se vertoning in 2015 het elkeen 121-miljoen kykers gelok.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….