Nuus 09:00
BULLETIN 13 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Hawelose mense se deelname aan die verkiesing is ‘n kritieke vraagstuk
# Business Leadership SA sê misdaad en korrupsie is groot bekommernisse vir die sakesektor
# En, ‘n gevangene wat ‘n lewenslange vonnis vir verkragting en ontvoering uitdien het uit die Mamelodi Hospitaal ontsnap
# U-turn Homeless Ministries is bekommerd oor die algemene apatie onder haweloses oor die komende verkiesing. Die uitvoerende hoof, Jean-Ray Knighton Fitt, beklemtoon die deelname van hawelose mense aan die verkiesingsproses is ‘n kritieke kwessie wat aandag verg. Hy erken die uitdagings waarmee hawelose mense te kampe het om te registreer om te stem. Fitt wys op die belangrikheid om hawelose mense by die demokratiese proses in te sluit, en beklemtoon die noodsaaklikheid vir hul stemme om gehoor en hul regte om erken te word:
# Business Leadership South Africa sê misdaad en korrupsie veroorsaak groot probleme omdat konstruksiemafias en sakeforums sakeondernemings landwyd uitbuit. In die tydperk voor 2022 is projekte van tot 63-miljard-rand volgens berigte vertraag of gestaak weens afpersingstaktieke en ontwrigting deur konstruksiemafias. Die organisasie se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê ‘n dringende en betekenisvolle verbetering is nodig ten opsigte van misdaadintelligensie, ondersoeke en uiteindelike vervolging.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste en ander wetstoepassingsagentskappe is besig met ʼn uitgebreide soektog nadat ʼn gevangene gister uit die Mamelodi-streekshospitaal in Pretoria ontsnap het. Clatta Gumbo is in Augustus 2018 as oortreder toegelaat. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê Gumbo dien ʼn lewenslange vonnis by die Baviaanspoort-tronk in Tshwane uit vir verkragting, ontvoering en aanranding:
# In moontlik die grootste verkiesing oor een dag ter wêreld gaan meer as 200-miljoen geregistreerde kiesers môre in Indonesië stem. Drie kandidate staan vir die presidentskap, naamlik die gewese weermaggeneraal, Prabowo Subianto, met sy derde poging en tans die voorloper. Die ander twee was vroeër goewerneurs: Ganjar Pranowo en Anies Baswedan. Kiesers sal ook sowat 20-duisend verteenwoordigers vir hul nasionale en provinsiale regerings kies. Die uittredende president, Joko Widodo, mag volgens die grondwet nie vir ‘n derde agtereenvolgende termyn staan nie.
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen, Iga Swiatek, het die Roemeen, Sorana Cirstea, gemaklik met 6-1 en 6-1 verslaan in die tweede ronde van die Katar Ope in Doha. Die Pool wil die eerste een wees wat die titel drie keer inpalm. Die viermalige major-kampioen van Japan, Naomi Osaka, het haar eerste ronde teen Caroline Garcia van Frankryk met 7-5 en 6-4 gewen. Victoria Azarenka van Belarus wat die toernooi al twee keer gewen het, het met Magdalena Frech van Pole afgereken. Swiatek, wat gister haar 90ste week as wêreld-nommer-een afgeskop het, sê sy is trots op haar prestasies:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 49-duisend-912-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-19-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….