Nuus 09:00
BULLETIN 12 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Beurtkrag sal volgens aanduidings nog vyf jaar voortduur
# Twee Israelse gyselaars is gered tydens ‘n inval in Rafah
# En sokker, die Ivoorkus klop Nigerië en word as Afrikabeker-kampioen gekroon
# Suid-Afrika gaan beurtkrag waarskynlik nog vir die volgende vyf jaar ondervind. Dit is die mening van professor Hartmut Winkler aan die Universiteit van Johannesburg. Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het beklemtoon dat hulle nie kortpaaie gaan neem met hul pogings om beurtkrag te beëindig nie. Winkler het aan Newzroom Afrika gesê die energiebeskikbaarheidsfaktor het versleg, wat tot hoër fases beurtkrag gelei het. Hy sê hy dink egter die ergste van beurtkrag vir die land is verby:
# Werkgewers in die staalbedryf doen ‘n beroep op werkers om in die lig van die bedryf se benarde finansiële situasie, realisties te wees met hulle verwagtings vir salarisverhogings met die aanvang van loononderhandelings vir 2024. Werkers het in 2022 en 2023 verhogings van vyf-persent ontvang. Die president van die Suider-Afrikaanse Federasie van Staal en Ingenieurswese, Elias Monage, sê twee opsies kan oorweeg word wanneer loononderhandelings begin. Dit is om loononderhandelings van meet af te begin om nuwe verhogings en ander vergoedingsvoordele in te sluit, of om met die bestaande ooreenkoms as ‘n basis te werk en gedeeltes daarvan te verbeter.
# Inwoners van eThekwini in KwaZulu-Natal het tydens openbare verhore hulle kommer uitgespreek oor die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette en sê dit gee die minister in die Presidensie te veel mag. Die wetsontwerp maak onder meer voorsiening vir die skepping van die Suid-Afrikaanse Intelligensie-agentskap met die fokus op die binneland se teen-intelligensie en intelligensie-insameling. Die voorsitter van die parlement se ad hoc-komitee oor die wetsontwerp, Jerome Maake, sê sommige inwoners meen die definisies in die wetsontwerp is vaag:
# Twee Israelse gyselaars is bevry tydens ‘n spesiale inval in die stad Rafah in die suide van Gaza, 128 dae nadat hulle gyselaar geneem is. Die twee gyselaars is geïdentifiseer as die 60-jarige Fernando Simon Marman en die 70-jarige Louis Har. Hulle is deur die militante groep Hamas gyselaar geneem tydens die groep se dodelike aanval op Israel op 7 Oktober. Die Palestynse Rooi Halfmaan-organisasie sê intussen meer as 30 mense is in die Israelse lugaanvalle dood toe bomme vanoggend vroeg twee moskees en verskeie huise getref het.
# Sokker: Die gashere Ivoorkus het Nigerië van agter ingehaal om hulle met twee-een te klop en die Afrika-Bekertoernooi vir die derde keer in te palm. William Troost-Ekong het Nigerië sewe minute voor die einde van die eerste helfte laat voorloop. Franck Kessie het die gelykmaker in die 62ste minuut aangeteken. Die voormalige West Ham-voorspeler, Sebastien Haller, wat teruggeveg het nadat hy in 2022 met testikulêre kanker gediagnoseer is, het die wendoel in die 81ste minuut behaal. Ivoorkus is die eerste gasheerspan wat die toernooi kon wen sedert Egipte dit in 2006 reggekry het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 48-duisend-162-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-23-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….