Nuus 09:00
BULLETIN 27 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Aucamp verleng die registrasiedatum vir die verskaffing van vee aan die Verenigde Arabiese Emirate
# Die parlementêre Ad Hoc-komitee sal vandag voortgaan met beraadslagings oor sy konsepverslag
# En Meta stem in om meer as 280-miljard-rand te betaal om ‘n sosialemedia-verslawingsgeding te skik
# Die minister van Landbou, Willie Aucamp, het die registrasiedatum verleng vir plase en voerkrale wat slagvee lewer vir rooivleisuitvoere na die Verenigde Arabiese Emirate. Plase en voerkrale het nou tot 31 Desember om die nodige stelsels te implementeer en te voldoen aan die regulasies van Veeartsenykundige Prosedurele Kennisgewing nommer 59. Aucamp sê die departement is daartoe verbind om Suid-Afrikaanse produsente te ondersteun terwyl hulle na belangrike wêreldmarkte uitbrei:
# Die parlementêre ad hoc-komitee vergader vandag om verder oor sy voorlopige verslag te beraadslaag. Die komitee ondersoek nasionale veiligheid ná bewerings van politieke inmenging, korrupsie en misdadigers wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens geïnfiltreer het. Bewyse uit getuienisse voor die komitee dui op sistemiese swakhede in die SAPD: die bestuur van spesialis-eenhede is onvoldoende, en dossierbeheer, voortsetting van sake en beveiliging van bewyse moet verbeter word. Die komitee moet die verslag teen 11 September aan die Nasionale Vergadering voorlê.
# Die Stad Tshwane sê hy het in die 2025/2026-boekjaar vier-duisend-120 kwalifiserende begunstigdes uit townships in ander gebiede hervestig. Dit sluit inwoners in wat in vleilande bly, wat huise in die pad van ontwikkeling gebou het, en talle begunstigdes in die nasionale behuisingregister. Die Tshwane-departement van Menslike Nedersettings se woordvoerder, Doreen Mokgolo, sê hulle maak seker die hervestiging word op ‘n ordelike en verantwoordelike manier bestuur:
# Die sosialemediareus, Meta, het ná ʼn grensverskuiwende hofsaak ingestem om 287,2-miljard-rand aan 48 Amerikaanse state te betaal. Hy word beskuldig dat hy doelbewus kenmerke ontwerp het wat kinders verslaaf maak aan sy platforms soos Facebook, Instagram en WhatsApp. As deel van die skikking ontken Meta enige verkeerde optrede. Kalifornië se prokureur-generaal, Rob Bonta, sê die maatskappy het ingestem om veranderinge aan te bring aan Facebook en Instagram, insluitend tydbeperkings bedags en blokkering snags:
# Rugby: Die laaste rondte van die Curriebeker-groepwedstryde vind hierdie naweek plaas, en die Haaie-afrigter Mike Vowles het min veranderings aangebring vir môre se wedstryd teen die Blou Bulle in Durban. Hy het slegs sy losvoorspelers wat in die vorige rondte teen die Leeus diens gedoen het, aangepas, met Hanu Pieterse wat terugkeer as nommer agt en Timo Mavesere wat na oopkantflank skuif. Die Haaie is tans sewende op die punteleer, maar kan steeds die halfeindronde haal, met die Bulle wat agtste is nadat hulle al ses hul vorige wedstryde verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-826-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-623-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….