Nuus 09:00
BULLETIN 26 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA verwerp bewerings van politieke inmenging met die hersiening van die Phala Phala-saak
# Linkse groepe verenig teen die voorgestelde veranderings aan die Uitsettingswet
# En Iran en Oman stel ‘n tydelike skeepvaartroete in die Straat van Hormoes voor
# ActionSA sê hy verwerp die bewering deur die Polisie- en Gevangenisse-burgerregte-unie dat sy aansoek om ‘n hersiening van die dissiplinêre uitkomste rondom die Presidensiële Beskermingsdiens-beamptes, Wally Rhoode en Hennie Rekhoto, op politieke inmenging neerkom. Die party het ‘n hofaansoek ingedien waarin die Suid-Afrikaanse Polisiediens daarvan beskuldig word dat die twee beskerm is vir hul rol in die Phala Phala-toesmeerdery. Lerato Ngobeni van ActionSA sê hulle is nie tevrede dat die tugproses bo verdenking was nie:
# Die nuutgestigte Council of the Left sê hy sal politieke organisasies, vakbonde en gemeenskapsgroepe verenig rondom gemeenskaplike strydpunte wat werkers en arm gemeenskappe raak. Die raad beplan om teen voorgestelde veranderings aan uitsettingswette te veg, die Onteieningswet te verdedig en die herverdeling van grond te ondersteun. Die organisasie vra ook groter befondsing vir basiese dienste, optrede teen besuiniging en maatreëls om lewenskoste te verlig. Hy sal daarop fokus om eenheid te bou deur aksie en die organisering van die werkersklas te versterk.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta het kommer uitgespreek oor ‘n beweerde poging tot seksuele aanranding by die Villa Liza Secondary School in Boksburg, oos van Johannesburg. Volgens die Gautengse Onderwysdepartement het ʼn graad 8-leerder verlede Donderdag na die skool se toilette gegaan toe twee leerders haar glo gevolg, vasgehou en probeer het om van haar klere te verwyder. ʼn Strafregtelike saak is aanhangig gemaak. Makaneta sê daar is geen plek vir seksuele geweld in skole nie:
# Iran en Oman het ʼn voorstel uiteengesit vir ʼn tydelike skeepsroete deur die Straat van Hormoes. Dit volg nadat president Donald Trump van Amerika herhaal het dat alle seemyne in die belangrike waterweg verwyder is, en gedreig het dat enige Iranse skepe wat probeer om nog te stel, vernietig sal word. Die voorstel sluit ʼn tydelike skeepsroete in en dat alle seemyne in die Straat verwyder word. Oman se minister van Buitelandse Sake, Badr bin Hamad Al Busaidi, sê hulle sal met streeksvennote beraadslaag ter ondersteuning van vrede en samewerking, bestendigheid en vrye navigasie.
# Sokker: Manchester United se kaptein, Bruno Fernandes, het die Professionele Sokkerspelervereniging se Speler van die Jaar-toekenning vir mans in die 2025/2026-seisoen ontvang, en Khadija Shaw van Manchester City is Vrouespeler van die Jaar. Fernandes het met 21 doele die Premierliga-rekord verbeter en Thierry Henry en Kevin De Bruyne verbygesteek. Nico O’Reilly van Manchester City is aangewys as die Jong Manspeler van die Jaar, terwyl Arsenal-speler, Olivia Smith, met die vrouetoekenning spog. Fernandes sê hierdie toekenning is baie spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-971-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-641-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….