Nuus 09:00
BULLETIN 9 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inkatha Vryheidsparty sê die Staatsrede was oninspirerend en ‘n herhaling
# Die GOOD Party sê president Ramaphosa moes ‘n basiese inkomstetoelaag aangekondig het
# En, Freedom Under Law wil ingryp by regter Hlophe se aansoek in die Konstitusionele Hof
# Die Inkatha Freedom Party sê die Staatsrede was oninspirerend en ‘n herhaling van wat die afgelope vyf jaar gesê is. President Cyril Ramaphosa het gisteraand die laaste Staatsrede van die ANC se sesde administrasie gelewer en die prestasies van die afgelope drie dekades uitgelig. Hy het gesê Suid-Afrika is nou ‘n baie beter plek as tydens die apartheidsjare. Die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, sê die toespraak was ‘n erkenning van mislukking, onder meer oor die hantering van staatskaping:
Die GOOD Party sê intussen hy is teleurgesteld dat president Cyril Ramaphosa nie in sy staatsrede ‘n hersiening van maatskaplike sekerheid aangekondig het nie. Die party meen die president het teruggekrabbel oor planne om ʼn permanente basiese inkomstetoelae in te stel en sê dit sal gedoen word deur die maatskaplike noodverligtingtoelaag uit te brei en aan te pas. Die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê basiese inkomste-ondersteuning is die grondslag waarop die regering ʼn stabiele en doeltreffende ekonomie kan bou:
# Freedom Under Law wil ingryp by die geskorste Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, se aansoek by die Konstitusionele Hof. Hy het die hoogste hof genader en vra dat die Parlementêre Justisiekomitee se aanbeveling aan die Nasionale Vergadering dat hy uit sy amp verwyder word, van die hand gewys word. Hy wil ook hê die hof moet die Parlement beveel om reëls te aanvaar vir ampsklagtes teen regters. Freedom Under Law sê Hlophe wil net regterlike aanspreeklikheid vermy.
# Die Amerikaanse Departement van Justisie se spesiale raadgewer, Robert Hur, het bevind president Joe Biden het ná sy termyn as visepresident doelbewus geklassifiseerde dokumente teruggehou. Hy het egter bevind geen strafregtelike aanklagte is nodig nie. FBI-agente het geklassifiseerde dokumente in Biden se woonplek in Delaware gevind. Volgens die spesiale raadgewer se verslag van 345 bladsye hou Biden se optrede ernstige gevare in vir nasionale veiligheid. Biden sê hy is bly dat geen aanklagte teen hom ingedien sal word nie:
Gholf: Bradley Bawden van Engeland en Tapio Pulkkanen van Finland is gesamentlik voor ná die openingsronde van die Kaapstad Ope by die Royal Cape Gholfklub. Hulle het ‘n voorsprong van een hou by die tweede van vier toernooie in die Sonskyn- en Europese Uitdaagtoer. Spelers se punte sal vir beide toere tel. ‘n Groep van ses spelers onder andere die Suid-Afrikaners Tristen Strydom en Stefan Wears-Taylor, is een hou agter die voorlopers, op 67, vyf onder baansyfer. Die verdedigende kampioen Benjamin Follett-Smith van Zimbabwe het die eerste ronde op 69, drie onder baansyfer voltooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-927-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-32-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….